Bible Society of South Africa

Elia

Elia was ʼn profeet in die noordelike ryk van Israel in die tyd van koning Agab en sy seun Ahasia. Elia wou hê dat die volk die God van Israel moes aanbid, en nie die vrugbaarheidsgod Baäl nie.

Die naam Elia

Die naam Elia beteken “my God is JHWH (HERE)”.


Elia was afkomstig uit Tisbe in die gebied van Gilead, oorkant die Jordaanrivier.

Elia en Agab

God stuur Elia na koning Agab om hom in te lig dat daar drie jaar lank ʼn droogte gaan wees. Gedurende hierdie drie jaar skuil Elia in die huis van ʼn weduwee van Sarfat naby Sidon, wat die gebied is waarvandaan Isebel, Agab se vrou, kom. In Sarfat verseker Elia op ʼn wonderbaarlike manier dat hulle altyd genoeg te ete sal hê. Hy wek ook die weduwee se seun uit die dood op.


Ná drie jaar keer Elia terug na Agab. Hy versoek die koning om ʼn konfrontasie tussen die Baälprofete en homself te reël. Hulle en Elia moet ʼn altaar bou waarop hulle ʼn offer aan hulle gode bring. Die god wat die offer met vuur uit die hemel aansteek, is die ware god. Niks gebeur met die offer aan Baäl nie, maar die God van Israel steek Elia se offer aan die brand. Elia gee toe opdrag dat al die Baälprofete doodgemaak moes word.

Elia op Horebberg

Toe Isebel te hore kom van wat gebeur het, dreig sy om Elia om die lewe te bring (1 Konings 19:1-2). Hy vlug die woestyn in na Horebberg, waar hy ʼn buitengewone ontmoeting met God het. God gee hom die opdrag om Elisa as sy opvolger aan te stel.

Elia word in die hemel opgeneem

2 Konings 2 berig dat Elia nie sterf nie, maar dat hy in ʼn wa van vuur en perde van vuur in die hemel opgeneem word. Vanweë hierdie ongewone einde aan sy lewe het die verwagting ontstaan dat God Elia eendag terug aarde toe sou stuur (Maleagi 4:5).


Hierdie verwagting speel ook ʼn belangrike rol in die Nuwe Testament (Matteus 17:10-12). Sommige mense dink dat Johannes die Doper die profeet Elia is wat teruggekeer het aarde toe (Johannes 1:21). Ander dink weer dat Jesus self die profeet Elia is (Matteus 16:14).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.8
VOLG ONS