Bible Society of South Africa

Bartimeus

Bartimeus is ʼn blinde bedelaar wat deur Jesus in die stad Jerigo gesond gemaak word. Nadat hy genees is, word Bartimeus een van Jesus se volgelinge.

Die naam Bartimeus

Die naam Bartimeus beteken “seun van Timeus” in Aramees. Dit is nie bekend of Bartimeus regtig sy voornaam was nie, en of dit bloot na sy vader se naam verwys.

Bartimeus is die enigste blinde persoon in die Nuwe Testament wie se naam bekend is.

Jesus maak Bartimeus gesond

Toe Bartimeus hoor dat Jesus by Jerigo inkom, begin hy skreeu: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” (Markus 10:47; Lukas 18:38). Dit is die eerste keer dat iemand Jesus so noem. Bartimeus wys op hierdie manier dat hy Jesus as die Messias beskou.


Alhoewel mense Bartimeus probeer stilmaak, begin hy nog harder skreeu. Jesus hoor hom en en laat hom nader kom.


Bartimeus gaan na Jesus toe en laat sy bokleed agter. Dit wys hoe gretig hy is en hoe graag hy by Jesus wil uitkom. Jesus genees Bartimeus, omdat hy in Jesus glo. Nadat hy genees is, volg Bartimeus Jesus op sy pad.

Blindheid in die Bybel

Blinde mense het in Jesus se tyd aan die buitewyke van die samelewing gebly. Die omstandighede was dikwels so hopeloos dat daar vir hulle niks anders oorgebly het nie, as om te bedel. ʼn Geskikte plek vir bedel was langs die pad, waar reisigers gereeld verbygekom het, veral in Jerigo wat die laaste halte op pad na Jerusalem was.


In die Bybel was blindheid meer as “nie in staat om te kan sien nie”. Dit word ook as metafoor gebruik vir “om nie te verstaan nie” of “om nie te wil of kan verstaan nie”.


Die genesing van Bartimeus in Markus is die laaste genesing voordat Jesus Jerusalem binnegaan. Die verhaal kan daarom ook gelees word as ʼn inleiding tot die lydingsverhaal.

Nog genesings

Behalwe Bartimeus is daar nog blindes in die Nuwe Testament wat genees word. Matteus 20:29-34 vertel ʼn verhaal wat met dié van Bartimeus ooreenstem, behalwe dat Jesus twee blindes genees.

Matteus 9:27-31 praat ook van twee blindes wat gesond gemaak is. In Markus 8:22-26 word ʼn blinde man in Betsaida genees. Jesus maak hom gesond deur op sy oë te spuug. In Johannes 9:1-7 genees Jesus ʼn blinde deur modder op sy oë te smeer.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.8
VOLG ONS