Bible Society of South Africa

2 Petrus

Hoewel die tweede brief van Petrus ’n brief genoem word, dra dit nie die kenmerke van ’n persoonlike brief nie. Die geskrif het meer in gemeen met die “testament”-genre. Die geskrif word toegeskryf aan die apostel Petrus. Dit is nie bekend wanneer die brief geskryf is nie.

Tema

Die inhoud van die brief word gekenmerk deur die tradisionele elemente van ’n testament. Die skrywer herroep openbaringsoomblikke uit sy eie lewe en dink oor sy eie dood. Hy bemoedig sy lesers deur hulle aan te spoor om vas te hou aan die geloof wat hulle ontvang het, selfs ná sy dood. Hulle moet dit op konkrete wyse bereik deur godvrugtig te lewe, wat bo alles deur liefde gekenmerk word.
’n Belangrike tema is die vertraging in Christus se wederkoms. Vals leraars en spotters probeer onmin en twyfel saai deur dit (die feit van die wederkoms) te ontken. Gelowiges word aangemoedig om vas te staan en te vertrou op die beloftes rakende die toekoms, die wederkoms van Christus en die aanbreek van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde waar geregtigheid woon. Verwysings na die Skrif en tradisie word ingespan om die sekerheid te versterk dat die regverdiges gered sal word en dat diegene wat God en sy gebooie verwerp, tot ’n val sal kom.

Styl

Die boek is in ’n verhewe styl geskryf; dit maak gebruik van ’n betreklik groot aantal woorde wat nêrens elders in die Nuwe Testament voorkom nie.

Genre

Soos in die geval van die eerste brief van Petrus, is 2 Petrus ’n omsendbrief, nie spesifiek bedoel vir ’n enkele gemeenskap nie, maar vir alle Christene. Boonop moet die geskrif gelees word as ’n apostoliese testament, ’n genre waarin elemente soos die afsterwe van ’n leier, verdeeldheid in die gemeente en ’n herinnering aan die belangrikheid van die Skrif en tradisie, voorkom.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.9
VOLG ONS