Bible Society of South Africa

Die Bybel 2020-vertaling – Inleiding en Voorwoord

Die Bybel 2020-vertaling is ‘n publikasie van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kerke in Suid-Afrika en Namibië wat die Bybel in Afrikaans gebruik, is lede van die Kerklike Advieskomitee: Die Bybel in Afrikaans (KABA), of is daarin verteenwoordig. KABA het die Bybelgenootskap in 2004 versoek om hierdie vertaling voor te berei.

Kenmerke van hierdie vertaling

Ter onderskeiding van vorige vertalings het KABA in 2004 die volgende vertaalopdrag goedgekeur:

Skep ‘n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.

Hierdie opdrag is verder omskryf as ‘n vertaling wat ‘n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moet wees, terwyl die beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks so ver moontlik behou moet word. Die vertaling moet van hoë letterkundige gehalte en goed verstaanbaar wees.

Daar is twee swaartepunte in hierdie vertaalopdrag, naamlik die bepalings so getrou moontlik aan die bronteks, en in goed verstaanbare Afrikaans. So getrou moontlik aan die bronteks impliseer nie net dat die vertaling ‘n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moet wees nie, maar ook dat die bronteks se beelde, metafore, styl en struktuur so ver moontlik behou moet word. Daar word dus gepoog om alles wat kenmerkend van die bronteks is, getrou weer te gee. In goed verstaanbare Afrikaans impliseer onder andere dat die vertaling ‘n duidelike, maar steeds getroue, weergawe van die betekenis van die bronteks en van hoë letterkundige gehalte moet wees.

Hierdie vertaling is ‘n direkte vertaling wat daarna streef om só te vertaal asof die Bybelskrywers in hulle eie woorde van duisende jare gelede self aan die woord gestel word, en in vloeiende, idiomatiese Afrikaans. In hierdie opsig verskil die vertaling van ‘n woord-vir-woord-vertaling. Dit kan beteken dat ‘n sinskonstruksie wat met ‘n bepaalde doel in die bronteks ongewoon is, indien moontlik in Afrikaans ook so (ongewoon) weergegee word. Daar is groot verskille in die struktuur en segswyse van die brontale en Afrikaans. Baie van die verskille hou verband met die eiesoortigheid van konvensies en ervaringswêrelde van die verskillende taalgemeenskappe. Aangesien blote formele ooreenkomste tussen die brontale en Afrikaans nie getrouheid aan die brontale waarborg nie, is daar gepoog om die betekenis en/of funksie van elke brontaalkonstruksie en beeld, hetsy op woord, sins- of teksvlak, te verstaan, met inagneming van die eie aard van die brontaalgemeenskap, en dan weer te gee op ‘n manier wat rekening hou met die eiesoortigheid van Afrikaans.

Die vereiste van getrouheid aan die bronteks hou verder in dat die vertaling nie aangepas word by die leefwêreld van vandag nie. Anders as ‘n direkte vertaling, poog indirekte (of dinamiese) vertalings om die teks van die vertaling aan te pas deur byvoorbeeld eietydse eenhede uit die konseptuele wêreld van moderne lesers (soos “rand” en “kilometer”) te gebruik. Hierdie vertaling poog om die Bybelse bronteks en leefwêreld so ver moontlik te weerspieël. Woorde vir metrieke mate en gewigte word daarom nie gebruik nie. Die terminologie van die brontaal (soos sikkels, handbreedte, el en dagreis) word so ver moontlik gehandhaaf. Moderne lesers se wêreld word eerder met behulp van inleidings by boeke, voetnote, kruisverwysings, sosiokulturele inligting, kaarte en ‘n woordelys verbreed, om sodoende hulp te verleen met die verstaan van vreemde begrippe, metafore en beelde, mate en gewigte. Dit sluit aan by ‘n ou tradisie, soos ook weerspieël in die Statevertaling. Daar word in voetnote dikwels daarop gewys dat daar ander geldige en bekende vertaalmoontlikhede bestaan, of dat daar onsekerheid bestaan oor die betekenis van die bronteks. Spesiale aandag is gegee aan die vorm van liedere en gedigte, sodat die eie aard van Bybelse poësie so ver moontlik behoue bly.

Geslagsinklusiewe terme

Sommige moderne vertalings van die Bybel gebruik geslagsinklusiewe terme, ook waar die bronteks slegs manlike terme gebruik. In hierdie bronteksgeoriënteerde vertaling word manlike terme deurgaans behou soos in die bronteks. Waar die bronteks wel manlike terme gebruik, maar die konteks duidelik aantoon dat dit inklusief verstaan moet word (bv die bronteks lui [vertaal] “broers”, maar verwys na “broers en susters”), word dit met ‘n voetnoot so aangedui (bv Hand 28:14 teenoor 28:17).

Waar daar nie sprake is van biologiese geslag nie, soos in die geval van nie-lewende sake, gebruik Afrikaans dikwels die voornaamwoord “hy” (en die res van die paradigma) as grammatikaal geslaglose vorm, aangesien grammatikale geslag, in teenstelling met Hebreeus en Grieks, en ook die verwante taal Nederlands, nie ‘n rol speel by die gebruik van sulke voornaamwoorde nie. ‘n Uitsondering word egter gemaak in gevalle waar sulke nie-lewende sake, byvoorbeeld stede, en abstrakte begrippe, soos wysheid, simbolies as vroulik voorgestel word. Voorbeelde hiervan is die verwysing na Jerusalem en Babel.

Spelling van eiename

Daar is besluit om die spelling van eiename hoofsaaklik by die 1983-vertaling te laat aansluit, behalwe waar daar goeie rede is om daarvan af te wyk. Daar word wel teruggekeer na die spelling “Martha”, aangesien dit steeds die mees gebruiklike spelling van die naam in Afrikaans is. “Athene” en “Thessalonika” is Griekse plekname wat in die moderne tydvak voortbestaan en algemeen met die “th”-spelling onder Afrikaanssprekendes bekend is. By plekname word verder so na as moontlik aan die bronteks en internasionale konvensies vir geografiese benamings gebly (UNESCO), aangesien sulke name vandag nog in algemene gebruik is. “Matteus” word behou, teenoor “Mattheus”, aangesien dit uit die gebruiksfrekwensie in die Afrikaanse korpus blyk dat die naam “Matteus” oorwegend voorkom. “Betlehem” word in die staat Israel en in die Bybel so gespel, terwyl die spelling van die dorp “Bethlehem” in die Vrystaat uit die Nederlandse Statevertaling oorgeneem is.

Voornaamwoorde en aanspreekvorme

Wanneer Jesus hoflik of eerbiedig aangespreek word, word “U/Uself” gebruik in die vertaling. Wanneer Jesus egter afwysend of aggressief aangespreek word, word “jy/jouself” gebruik, en “hy/hom” wanneer so ‘n spreker (of iemand wat Jesus nog nie as Messias aanvaar nie) oor Jesus praat. Wanneer die bronteks slegs ‘n voornaamwoord gebruik (hy, sy, hierdie, hulle) en daar in Afrikaans onduidelikheid kan ontstaan oor die vraag na wie daar verwys word, word die voornaamwoord ter wille van die voorlees daarvan deur die persoonseienaam vervang sonder om dit telkens in ‘n voetnoot te verduidelik (vgl Heb 10:12 “Christus” in plaas van “hierdie”).

In gesproke taal word “pa/ma” as die direkte informele aanspreekvorm gebruik, ook waar die bronteks “jy/jou” gebruik. Indien die konteks formeel van aard is, of dit duidelik is dat die aanspreekvorm eerbiedig bedoel word, word “vader/moeder” gebruik. Dit geld ook so vir “u/jy”. Die skrywer verwys in vertellings in die derde persoon na “vader/moeder”. In vertellings deur ‘n outeur en by derdepersoonsverwysings in dialoog word “vader/moeder” in formele kontekste gebruik, en in informele kontekste “pa/ma”.

Opskrifte

Opskrifte is so bondig moontlik en word direk aan die inhoud van die perikoop ontleen. Te veel opskrifte kan soms die groter eenheid van die teks onderbreek en word in sommige boeke dikwels nie gebruik nie. Die oorspronklike Bybelteks bevat in elk geval nie opskrifte nie.

Voetnote

Voetnote wat slegs na ‘n enkele woord of frase verwys, word met ‘n letter van die alfabet ná die laaste woord ter sprake aangedui. Die eerste en laaste woorde van die frase baken, as trefwoorde, die frase af, soos in Matteus 5:21 waar “dat … gesê is” die frase “dat aan die voorgeslagte gesê is” in die teks aandui. Voetnote wat na ‘n vers as geheel (of meer as een vers) verwys, word met ‘n letter van die alfabet aan die begin van die vers(e) aangedui, soos in Matteus 2:18 of Matteus 12:18-21. Die volledige voetnoot word nie in dieselfde hoofstuk herhaal nie, maar daar word slegs terugverwys na die eerste voorkoms daarvan in daardie hoofstuk. In voetnote word dikwels sosiokulturele inligting gebied ten einde die leser in te lei in die leefwêreld van die Bybel. Dit geld byvoorbeeld sake soos geldeenhede, mate en gewigte, wat nie by die moderne wêreld aangepas word nie, titels van ampsdraers, bepaalde gebruiksvoorwerpe, ensovoorts.

Voetnote bevat soms ook inligting oor die vertaalkeuse deur te verwys na ander vertalings en ander vertaalmoontlikhede as wat in hierdie vertaling opgeneem is, op die volgende wyse:

“Word ook vertaal …” dui op ander vertaalmoontlikhede soos opgeneem in ander vertalings. “Kan ook vertaal word …” dui op ander vertaalmoontlikhede waar daar onsekerheid is oor die betekenis van die bronteks, of waar die bronteks verskillend vertaal kan word.

Die ikoon 🌐 in ‘n voetnoot verwys die leser na ‘n kaart agter in die Bybel (slegs van toepassing in die gedrukte Bybel).

Die datums vir die regeringstye van konings van Israel en Juda verskaf probleme en kan nie met sekerheid bepaal word nie. In die bronteks word by die konings van die verdeelde koninkryke van Juda en Israel die troonbestygingsjaar van ‘n spesifieke koning gesinchroniseer met, of gestel langs, die bepaalde regeringsjaar van ‘n tydgenoot. Die harmoniëring bevat verskeie inkonsekwenthede as gevolg van faktore soos byvoorbeeld die verskillende wyses waarop die telling gedoen is, die verskillende bronne wat die skrywers gebruik en gekombineer het, die verandering in die skryfwyse vir getalle, asook oorskryffoute. Daar bestaan verskeie voorstelle om die teenstrydige data te harmonieer – sommige oplossings fokus op die regeringsjare van die koningskap, ander op die sinchronisering. Geeneen van die voorgestelde pogings slaag daarin om gelyktydig die sinchronisering van regeringsjare te harmonieer nie. In hierdie vertaling word hoofsaaklik gebruik gemaak van die datums soos in talle hoofstroompublikasies. Wat betref die datering van ander buitelandse konings bestaan daar relatiewe sekerheid ten opsigte van die datums wat by konings van Israel en Juda verstrek word.

Kruisverwysings

Kruisverwysings word ingevoeg om bepaalde woordelikse ooreenkomste of tematiese verbande tussen bepaalde verse of groter gedeeltes aan te dui. Kruisverwysings word onder aan die bladsy onder die voetnote met hoofstuk- en versverwysings gedruk, met die eerste en laaste woorde van die frase (soos by voetnote); bv Joh 1:4 (In … was lewe: Joh 5:26). Waar geen trefwoord by ‘n kruisverwysing gegee word nie, geld dit (soos by voetnote) die vers (of meer as een vers) as geheel, bv Joh 1:1-2 (Joh 17:5; 1 Joh 1:1-2). Wanneer ‘n teks of tekste deur “vgl” ingelui word, moet die leser daarop bedag wees dat die betrokke teks moontlik op iets anders kan dui as die ander tekste wat genoem is. Kruisverwysings het nie net betrekking op die Ou en Nuwe Testament nie, maar verwys ook na Deuterokanonieke boeke en buite-Bybelse bronne, soos Griekse skrywers en pseudepigrafiese geskrifte.

Aanhalings uit en verwysings na die Ou Testament

Die Nuwe Testament bevat dikwels aanhalings uit die Ou Testament. Soms word daar aangehaal uit die Hebreeuse Ou Testament, maar meestal uit die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint, waarvan die vertaling dikwels nie presies ooreenstem met die Hebreeuse Ou Testament en die huidige vertaling daarvan nie. In ander gevalle word woorde of frases gebruik wat na die Ou Testamentiese teks verwys. Wanneer Nuwe Testamentiese aanhalings uit die Ou Testament nie die Hebreeuse/Aramese bronteks volg nie, maar ‘n Griekse vertaling daarvan, word daar na die Septuagint (of ander Griekse vertalings soos Aquila of Theodotion) verwys.

Dikwels word Ou Testamentiese tekste in die Nuwe Testament op Jesus Christus van toepassing gemaak. In sulke gevalle word daar in die Ou Testament en in die Nuwe Testament voetnote ingevoeg wat oor en weer na die ooreenkomste in die aanhaling verwys, vgl Matt 1:23 (Kyk … noem: Aanhaling uit Jes 7:14 as heenwysing na Jesus Christus), en by Jes 7:14 (Kyk … noem: In Matt 1:23 aangehaal as heenwysing na Jesus Christus).

Wanneer daar woordelikse ooreenkomste is, maar dit nie ‘n duidelike aanhaling is nie, word die term verwys in die voetnoot gebruik; vgl Matt 3:16 (Hy het die … neerdaal: Hier word verwys na Jes 11:2 as heenwysing na Jesus Christus), en by Jes 11:2 (In Matt 3:16; Mark 1:10; Luk 3:22; Joh 1:32 word hierna verwys as heenwysing na Jesus Christus). By Jes 11:2 verwys die voetnoot aan die begin van die vers na die vers as geheel.

Versnommers

Weens bepaalde historiese redes verskil sommige versnommers in hierdie vertaling (soos in vorige Afrikaanse en sommige ander vertalings) op bepaalde plekke van die versnommers in die gedrukte brontekste. In sulke gevalle word dit telkens in voetnote aangedui.

Woordelys

(Slegs van toepassing in die gedrukte Bybel)
Belangrike bykomende inligting en toeligting word in ‘n woordelys aan die einde van die Bybel opgeneem. Dit sluit sosiokulturele, geografiese en historiese gegewens in. Die woorde en begrippe wat toegelig word in die Woordelys, word met ‘n kol (•) in die vertaling en die voetnote aangedui. Woorde wat in die Woordelys met ‘n • gemerk is, word elders in die Woordelys behandel. Die ikoon 🌐 in ‘n voetnoot, soos hierbo aangedui, verwys die leser na ‘n kaartnommer agter in die Bybel.

Hebreeuse name van God

Die behoefte is deur sommige lesers uitgespreek dat die Hebreeuse name van God in die Bybel gebruik moet word. Hieronder volg ‘n lys met die name wat vir God in die Hebreeuse Bybel gebruik word, met die uitspraak en Afrikaanse vertaling daarvan. Om die uitspraak in Hebreeus so noukeurig as moontlik weer te gee, word die onderstaande letters in die transkripsie van die name gebruik:

[e] soos die “e” in “seraf”
[ɛ] soos die “e” in “wet”
[ə] soos die “e” in “se”
[o] soos die “oo” in “room”
[ɔ] soos die “o” in “lot”
[i] soos die “i” in “minimum”
[x] soos die “g” in “gees”
[v] soos die “v” in “universiteit” (d.w.s. die “w” in “weet”)

As die klank [a] lank uitgespreek word, volg ‘n dubbelpunt, dus [a:].

אֵל – [el] “God”, en soms “god/afgod” of in die meervoud telkens “afgode”, behalwe waar אֵל [el] ‘mag’ beteken (bv Gen 31:29; Deut 28:32).

אֱלֹהִים – [əlohim] “God” en “gode”, behalwe waar אֱלֹהִים as ‘n superlatief gebruik word (bv Jona 3:3).

אֵל בְּרִית – [el bərit] “die Verbondsgod” of “(die) God van die verbond”.

אֵל עוֹלָם – [el ola:m] “die Ewige God” of “God, die Ewige”.

אֵל עֶלְיוֹן – [el ɛljon] “die Allerhoogste God” of “God, die Allerhoogste” (Gen 14:18).

אֵל רֳאִי – [el rɔ’i] “Die God wat my sien” (Gen 16:13).

אֵל שַׁדַּי – [el sjad’dai] “die Almagtige God” of “God, die Almagtige”.

אֲדֹנָי en אָדֹון – [ədona:i] en [a:don] “my/ons Heer” en “die Heer” (Jes 10:16).

אֲבִיר יַעֲקֹב en אֲבִיר יִשְׂרָאֵל – [əbir ja’əkob] en [əbir jisra:’el] “die Magtige van Jakob” en “die Magtige van Israel”.

אֲדֹנָי יהוה – [ədona:i jhvh] “my/ons Heer, die Here”, en as aanspreekvorm “Here, my/ons Heer”.

אֲדֹנָי יהוה צְבָאוֹת – [ədona:i jhvh tsəba:’ot] “die Here, my Heer, Heerser oor alle magte”, en as aanspreekvorm “Here, my Heer, Heerser oor alle magte”.

יהוה – [jhvh] “die Here”, en as aanspreekvorm “Here”.

יהוה אֱלֹהִים – [jhvh əlohim] “die Here God”, en as aanspreekvorm “U, Here God”.

יהוה אֵל עֶלְיוֹן – [jhvh el ɛljon] “die Here God, die Allerhoogste” (Gen 14:22).

יהוה צְבָאוֹת – [jhvh tsəba:’ot] “die Here, Heerser oor alle magte”, en as aanspreekvorm “U Here, Heerser oor alle magte”.

פַּחַד יִצְחָק – [paxad jitsxa:k] “die Vrees van Isak” (Gen 31:42).

אֵל נוֺרָא – [el nora:] “ontsagwekkende God” (Deut 7:21).

Plasing van boeke

Die Ou Testament

Die boeke van die Hebreeuse Bybel is in drie opeenvolgende eenhede gegroepeer:

Die eerste vyf boeke, Genesis tot Deuteronomium, wat vanweë die wette daarin die belangrikste was vir die Joodse geleerdes, is in die raamwerk van ‘n deurlopende vertelling gegiet – van die skepping tot voor die intog in die Beloofde Land. Hierdie versameling word in Hebreeus die Tora (Onderwysing of Wet) genoem.

Die tweede groep boeke word die Nebi’im of Profete genoem, en bestaan eerstens uit die Vroeë Profete, naamlik die boeke Josua, Rigters, 1 en 2 Samuel en 1 en 2 Konings. Hierdie boeke, wat die geskiedenis van Israel vertel vanaf die intog tot met die wegvoering in ballingskap, dra die naam Vroeë Profete, omdat dit volgens Joodse oorlewering deur profete geskryf is. Die sogenaamde Latere Profete is die boeke Jesaja tot Maleagi, met die uitsondering van Klaagliedere. Die Latere Profete is volgens die omvang van die boeke verdeel in Groot Profete en Klein Profete. Die Groot Profete, Jesaja, Jeremia en Esegiël, is volgens die tyd van optrede gerangskik. In die geval van die Klein Profete speel twee maatstawwe ‘n rol: Eerstens is daar ‘n patroon van buitelands-binnelands, gesien vanuit Juda. Hosea tree in Israel op, dus buite Juda, Joël tree in Juda op, Amos weer buite Juda, en so word die patroon gevolg tot by Nahum, die laaste profeet wat buite Juda opgetree het. ‘n Tweede maatstaf is dié van bekendes eerste en onbekendes laaste. Die profesieë wat vanaf Sagaria 9 tot Maleagi 4 opgeteken is, is na alle waarskynlikheid die werk van onbekende profete (vgl die inleidende woorde “’n Profesie” in Sag 9:1; 12:1 en Mal 1:1), wat so ingedeel is dat die boeke van die Klein Profete ‘n twaalftal vorm. Na die Tora en Nebi’im word in die Nuwe Testament soms verwys as Moses en die Profete (vgl Luk 16:29).

Die res van die boeke van die Hebreeuse Bybel is saam gegroepeer onder die naam Ketoebím of Geskrifte. Psalms het in hierdie versameling altyd die belangrikste plek ingeneem (vgl Luk 24:44). In die Geskrifte vorm die drie poëtiese boeke Psalms, Job en Spreuke die eerste groep. Daarna volg die sogenaamde feesrolle, of Meghillot, wat tydens feeste in die sinagoges gelees word: Hooglied tydens die Pasga; Rut tydens die Oesfees (Pinkster); Klaagliedere met die herdenking van die vernietiging van die tempel op die negende van die maand Ab; Prediker op die derde dag van die Huttefees; en Ester tydens die Purimfees. Die laaste deel van die Geskrifte bestaan uit Daniël, Esra, Nehemia en Kronieke. Kronieke is waarskynlik heel laaste as heilige boek aanvaar, omdat die vertellings daarin reeds in Samuel en Konings opgeneem was. Uit Lukas 11:51, waar daar verwys word na die eerste en laaste moorde in die Ou Testament (Abel en Sagaria), kan afgelei word dat Kronieke baie vroeg reeds die laaste boek van die Ou Testament was (vgl 2 Kron 24:21).

Met behoud van vaste eenhede soos die Tora, die Groot en Klein Profete en ander groepe, is die plasing in hierdie vertaling breedweg volgens die patroon verlede (Gen – Job), hede (Ps – Hoogl), toekoms (Jes – Mal) gedoen. Klaagliedere is ná Jeremia geplaas, omdat geglo is dat Jeremia die outeur daarvan was.

Die Nuwe Testament

Die plasing van boeke in die Nuwe Testament weerspieël dieselfde maatstawwe as dié wat vir die Ou Testament gegeld het. Die patroon verlede (Matt – Hand), hede (al die briewe vanaf Rom – Jud) en die toekoms (Op) het gegeld. Binne die eenheid wat as Pauliniese briewe bekend is (min of meer van die langste na die kortste geplaas), staan Hebreërs, waarvan die skrywer onbekend is, laaste. In die algemene sendbriewe (Jak – Jud) het die maatstaf langstes eerste, kortstes laaste, waarskynlik ‘n rol gespeel.

Bible Society of South Africav.4.18.10
VOLG ONS