Job: Die mens se lewe is kort en vol onrus
1“Die mens, uit 'n vrou gebore, se lewe is kort en vol onrus.
2Hy is soos 'n blom wat oopgaan en dan verlep,
'n skaduwee wat verbygaan en nie stilstaan nie.
3Dit is so 'n mens vir wie U in die oog hou,
vir wie U in 'n regsgeding met U wil betrek.
4Wie kan rein uit onrein laat voortkom?
Niemand nie!
5“Die mens se dae is vasgestel,
U het die getal van sy jare bepaal,
U het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie.
6U moet van hom af wegkyk en hom met rus laat
totdat hy soos 'n huurling sy dagtaak afgehandel het.
7Vir 'n boom is daar nog hoop;
al is dit afgekap, kan dit weer uitloop,
en sy lote sal aanhou groei.
8Al word sy wortels oud in die aarde
en al gaan sy stam dood in die grond,
9spruit hy weer uit as hy net water ruik,
en groei sy takke asof hy pas geplant is.
10Maar die mens sterf en verdwyn,
hy blaas sy laaste asem uit, en waar is hy?
11Soos water uit die see verdamp,
en 'n rivier opdroog,
12so ontslaap die mens en staan nie weer op nie;
totdat die hemel nie meer daar is nie,
sal hy nie wakker skrik nie,
nie weer wakker gemaak word nie.
13As U my maar liewer in die doderyk wou wegsteek,
my daar wou hou tot u toorn afgekoel het,
as U maar liewer 'n tyd vir my wou vasstel
en dan weer aan my wou dink!
14“As 'n mens sterf, sal hy weer lewe?
Dan sou ek al die dae van my swaarkry kon wag
tot daar vir my nuwe lewe kom.
15Dan sou U my roep en ek U antwoord
en sou U graag weer die maaksel van u hande wou sien.
16Dan sou U elke tree tel wat ek gee,
maar nie ag gee op my sonde nie.
17Dan sou U my oortreding in 'n sak verseël
en my sonde toemaak.
18Maar soos 'n berg in stukke breek
en 'n rots uit sy plek losgeruk word,
19soos water klippe verweer,
'n wolkbreuk die grond wegspoel,
so vernietig U die hoop van die mens.
20U oorweldig hom vir altyd en hy verdwyn,
hy kom te sterwe, U neem hom weg.
21Sy seuns word vereer, maar hy weet dit nie,
hulle word verkleineer, maar hy is nie daarvan bewus nie.
22Hy voel net die pyn aan sy eie liggaam,
die smart wat aan hom bly vreet.”