1As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom
sodat die berge voor U skud!
2Kom af soos 'n vuur wat fynhoutjies laat brand,
soos 'n vuur wat water laat kook.
Laat u Naam só aan u vyande bekend word,
laat die nasies só voor U bewe.
3Toe U wonders gedoen het,
wonders wat ons nie verwag het nie,
toe U destyds afgekom het,
het die berge voor U geskud.
4Van ouds af het niemand so iets gehoor nie,
het niemand so iets verneem nie,
het geen oog 'n god gesien
wat vir dié wat op hom vertrou,
doen wat U doen nie.
5U kom dié te hulp wat met blydskap doen wat reg is,
dié wat onthou hoe U wil hê hulle moet lewe.
U was kwaad vir ons,
want ons het gesondig.
Ons het so lank daarmee aangehou,
hoe kan ons dan nog gered word?
6Ons het almal geword soos mense wat onrein is,
ons beste dade is soos vuil klere;
ons is almal soos verdroogde blare,
ons word deur ons sondes weggewaai soos deur 'n wind.
7Daar is niemand wat tot U om hulp roep nie,
niemand wat sy krag in U soek nie.
U het ons aan onsself oorgelaat,
U laat ons wegkwyn deur ons sondes.
8U is ons vader, Here,
ons is klei en U het ons gevorm,
ons is almal die werk van u hande.
9Moet tog nie aanhou kwaad wees vir ons nie, Here,
moenie ons sonde vir altyd teen ons hou nie,
onthou tog ons is almal u volk.
10U heilige stad het 'n woestyn geword:
Sion het 'n woestyn geword,
Jerusalem is onbewoonbaar.
11Ons heilige en pragtige tempel
waar ons voorouers U geloof het,
is deur vuur verwoes,
alles wat vir ons dierbaar was, lê in puin.
12Raak hierdie dinge U dan nie, Here?
Gaan U nie ingryp nie?
Gaan U aanhou om ons te laat ly?