Jakob seën sy seuns
1Jakob het sy seuns laat roep en vir hulle gesê:
“Kom hier! Ek wil vir julle sê
wat met julle nageslagte sal gebeur:
2Kom na my toe, seuns van Jakob,
luister na Israel, julle vader!
3“Ruben, jy is die oudste,
toonbeeld van my krag,
gebore toe ek in my fleur was;
jy is die vernaamste, die sterkste.
4Maar jy sal nie langer die vernaamste wees nie,
want soos stormwater was jy onstuimig:
jy het jou vergryp aan 'n vrou van jou vader,
jy het my bed verontreinig toe jy daarin geklim het.
5“Simeon en Levi is die een soos die ander:
altyd gereed vir geweld.
6Aan hulle beraadslagings wil ek geen deel hê nie,
in hulle vergaderings wil ek nie kom nie,
want koelbloedig het hulle mense vermoor,
roekeloos het hulle diere mishandel.
7Die straf van God sal hulle tref
oor hulle geweldpleging, hulle onbeteuelde drif:
hulle sal uitmekaar gejaag word in Jakob,
versprei word tussen die stamme van Israel.
8“Juda, dit is jy vir wie jou broers sal eer:
jy sal jou vyande onderwerp
en jou broers sal voor jou buig.
9Jy is 'n leeu, my seun Juda,
wat van die prooi af wegstap.
Jy rek jou uit, jy gaan lê rustig soos 'n leeu,
soos 'n leeumannetjie wat deur niemand opgejaag word nie.
10Jy sal altyd heers,
jy sal aanhou regeer
totdat Silo kom,
die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp.
11Hy maak sy rydier vas aan 'n wingerdstok,
sy donkie aan die beste wingerdstok.
Sy klere is so rooi soos wyn,
sy koningskleed so rooi soos druiwesap.
12Sy oë is donkerder as wyn,
sy tande witter as melk.
13“Sebulon woon by die strand,
by die strand waar skepe is,
sy oë is op Sidon gerig.
14“Issaskar is 'n sterk pakdier,
hy gaan lê tussen sy twee saalsakke.
15Hy sien 'n goeie woonplek,
'n mooi landstreek,
en daarvoor onderwerp hy hom aan dwangarbeid,
doen hy slawewerk.
16“Dan is een van die stamme van Israel,
hy handhaaf die reg van sy volk.
17Dan is 'n slang op die pad,
'n horingslang op die grootpad,
hy pik die perd aan sy hakskeen,
die ruiter val agteroor.
18“Ek wag dat U red, Here!
19“Gad – 'n bende oorval hom,
maar hy val hulle van agter af aan.
20“Aser eet ryk kos,
hy eet koningskos.
21“Naftali is 'n takbok wat vry rondloop,
hy het 'n mooi nageslag.
22“Josef is 'n boom wat vrugte dra,
'n vrugteboom by die fontein,
sy takke groei oor die omheining.
23Dié wat met pyl en boog skiet, val hom aan,
hulle is baie en hulle is sy vyande.
24Maar hulle boog misluk elke keer,
hulle sterk arms bewe,
want die magtige God van Jakob gryp in,
die Rots van Israel beskerm hom.
25Die God van jou vader sal jou help, Josef,
die Almagtige sal jou seën,
Hy seën jou met reën uit die hemel,
met water diep onder die grond uit,
met moeders wat hulle kinders voed,
met baie kinders.
26Die seëninge wat jou vader gegee het, is sterk,
sterker as dié van die ou-ou berge,
as die kosbaarhede van die heuwels wat altyd daar is.
Daardie seëninge kom op Josef,
op hom wat die leier van sy broers sal wees.
27“Benjamin is 'n wolf wat prooi verskeur:
vroeg in die môre eet hy buit,
in die aand vang hy sy prooi.”
28Dit is al twaalf die stamme van Israel. So het hulle pa met hulle gepraat toe hy hulle geseën het. Hy het hulle een vir een geseën, elkeen met 'n eie seën.
Jakob se dood en begrafnis
29Jakob het vir sy kinders gesê: “Wanneer ek sterf, moet julle my gaan begrawe in die familiegraf, in die grot op die grond van die Hetiet Efron. 30Dit is die Makpelagrot teenoor Mamre in Kanaän. Abraham het die stuk grond by die Hetiet Efron gekoop om 'n begraafplek te hê. 31Abraham en sy vrou Sara is daar begrawe, Isak en sy vrou Rebekka is daar begrawe, en daar het ek vir Lea begrawe. 32Abraham het die grond en die grot daarop by die Hetiete gekoop.”
33Toe Jakob klaar gepraat het, het hy gaan lê, die asem uitgeblaas en gesterf.