1Die Gees het my opgetel en my gebring na die oostelike poort van die huis van die Here, die poort wat oos kyk. Daar by die ingang van die poort was vyf en twintig man, en tussen hulle het ek vir Jaäsanja seun van Assur en vir Pelatja seun van Benaja gesien, leiers van die volk. 2Die Here het vir my gesê: “Mens, dit is die manne wat die sonde bedink en die slegte leiding in hierdie stad gee. 3Hulle sê: ‘Dit is nie nou tyd om huise te bou nie. Die stad is die pot en ons is die vleis.’ 4Tree op as profeet teen hulle, tree op as profeet, mens.”
5Die Gees van die Here het oor my gekom en vir my gesê: “Jy moet sê: So sê die Here: Julle het dit gesê, Israel, Ek ken die gedagtes wat by julle opkom. 6Julle het baie mense in hierdie stad vermoor, julle het sy strate vol lyke gemaak.
7“Maar,” so sê die Here my God, “die vleis is die mense vir wie julle in die stad doodgemaak het, en die stad is die pot, en vir julle sal Ek daar uithaal. 8Julle is bang vir die swaard, en die swaard sal Ek oor julle bring,” sê die Here my God.
9“Ek sal julle uit die stad uithaal en julle in die mag van vreemdes oorgee en julle straf. 10Julle sal met die swaard doodgemaak word. Ek sal julle straf op die grense van Israel, en julle sal besef dat Ek die Here is. 11Die stad sal nie die pot wees en julle die vleis in hom nie: op die grense van Israel sal Ek julle straf. 12Dan sal julle besef dat Ek die Here is volgens wie se voorskrifte julle nie geleef het nie en wie se bepalings julle nie uitgevoer het nie. Maar julle het geleef volgens die gebruike van die nasies rondom julle.”
13Terwyl ek besig was om so as profeet op te tree, het Pelatja seun van Benaja gesterf. Ek het op my gesig geval en hard geroep: “Ag, Here my God, gaan U 'n einde maak aan wat van Israel oor is?”
14Toe kom die woord van die Here tot my: 15“Mens, dit is van jou broers, jou familie en die hele Israel dat die inwoners van Jerusalem sê: ‘Hulle is ver van die Here af, en hierdie land is vir ons as besitting gegee.’ 16Daarom moet jy sê: So sê die Here my God: Ek het hulle ver weg gevat na ander nasies toe en hulle oor ander lande verstrooi, maar in dié tyd het Ek self vir hulle 'n heiligdom gebly in die lande waarheen hulle is.
17“Jy moet sê: So sê die Here my God: Ek gaan julle dan ook nou bymekaarmaak tussen die ander nasies uit, julle versamel uit die ander lande waarheen Ek julle verstrooi het, en vir julle die land Israel teruggee. 18Hulle sal hierheen kom en al die walglike, afskuwelike goed uit die stad uit verwyder. 19Ek sal hulle 'n ander hart gee en 'n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle 'n hart van vleis gee. 20Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my bepalings nakom en daarvolgens optree. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees. 21Dié wat die walglike, afskuwelike dinge bly doen, se dade sal op hulle eie kop afkom.”
Dit het die Here my God gesê.
22Toe het die gerubs hulle vlerke gespan, en die wiele het saam met hulle beweeg. Die magtige teenwoordigheid van die God van Israel was bokant die gerubs. 23Die magtige teenwoordigheid van die Here het uit die stad uit opgestyg en op die berg oos van die stad gaan staan.
24Daarna het die Gees my opgetel en my teruggebring na die land van die Galdeërs toe, na die ballinge toe. Dit het gebeur in die gesig wat ek deur die Gees van God gesien het. Die gesig was toe verby. 25Ek het alles wat die Here my laat sien het, vir die ballinge vertel.