Petrus en Kornelius
1In Sesarea was daar 'n man met die naam Kornelius, 'n kaptein in die sogenaamde Italiaanse regiment. 2Hy was godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid.
3Een middag teen drie-uur het hy in 'n gesig duidelik 'n engel van God na hom toe sien kom wat na hom roep: “Kornelius!”
4Kornelius het hom verskrik aangekyk en gevra: “Wat is dit, Meneer?”
Die engel sê toe vir hom: “God het gelet op jou gebede en op wat jy vir die armes doen, en Hy het aan jou gedink. 5Stuur nou dadelik mense na Joppe toe en laat daar 'n sekere Simon haal wat ook Petrus genoem word. 6Hy is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.”
7Nadat die engel wat met hom gepraat het, weggegaan het, het Kornelius twee van sy huisbediendes en een van sy lyfwagte, 'n godsdienstige soldaat, geroep. 8Hy het hulle alles vertel en hulle na Joppe toe gestuur. 9Die volgende dag teen twaalfuur die middag, toe hulle op hulle reis al naby die dorp was, het Petrus opgegaan na die dakstoep van die huis om te bid. 10Hy het later honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense die ete klaargemaak het, het hy in geesvervoering geraak. 11Hy het die hemel oop gesien en iets soos 'n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, sien afkom grond toe. 12Daarin was van al die viervoetige en die kruipende diere van die aarde en van al die wilde voëls. 13Hy hoor toe 'n stem vir hom sê: “Kom, Petrus, slag en eet.”
14Maar Petrus sê: “Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.”
15Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.”
16Dit het drie keer gebeur, en daarna is die doek weer in die hemel opgetrek.
17Terwyl Petrus nog wonder oor die betekenis van die gesig wat hy gesien het, kom die mans wat deur Kornelius gestuur is, by die voordeur aan. Hulle was op soek na die huis van Simon 18en doen toe navraag of Simon wat ook Petrus genoem word, daar tuis is. 19Terwyl Petrus nog nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: “Daar is drie mans wat jou soek. 20Kom, gaan ondertoe en moenie aarsel om saam met hulle te gaan nie, want Ek het hulle gestuur.”
21Petrus het ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek. Dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?”
22Hulle antwoord: “Kaptein Kornelius, 'n opregte en godvresende man vir wie die hele Joodse volk hoë agting het, het 'n openbaring deur 'n heilige engel gekry dat hy u na sy huis toe moet laat haal om te hoor wat u te sê het.”
23Petrus nooi hulle toe in en gee vir hulle huisvesting.
Die volgende dag het hy en 'n paar van die gelowiges in Joppe saam met hulle gegaan 24en 'n dag later in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en huisvriende reeds bymekaar geroep. 25Toe Petrus daar kom, het Kornelius hom tegemoet gegaan en eerbiedig voor hom gekniel. 26Maar Petrus het hom laat opstaan en gesê: “Staan op! Ek is self ook maar net 'n mens.”
27Terwyl Petrus met Kornelius praat, gaan hy die huis binne, waar hy baie mense bymekaar aantref, 28en hy sê vir hulle: “Julle weet dat 'n Jood nie met iemand van 'n ander volk mag omgaan of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie. 29Daarom het ek sonder om teë te stribbel, gekom toe julle my laat haal het. Sê nou vir my waarom julle my laat haal het.”
30Kornelius antwoord: “Vier dae gelede so teen drie-uur die middag was ek in my huis besig om te bid. Toe staan daar skielik 'n man met blink klere voor my, 31en hy sê: ‘Kornelius, God het jou gebed verhoor en gelet op wat jy vir die armes doen. 32Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon, wat ook Petrus genoem word, daar haal. Hy is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.’ 33Ek het dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Ons is nou almal hier in die teenwoordigheid van God om te hoor wat die Here alles aan u opgedra het.”
Petrus se toespraak by Kornelius
34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.
39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”
Mense wat nie Jode is nie, ontvang die Heilige Gees
44Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het. 45-46Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie. En Petrus sê: 47“Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?”
48Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word. Daarna het hulle hom gevra om 'n paar dae by hulle te bly.