Dawid wil vir die Here 'n huis bou
1Toe koning Dawid in sy eie huis woon, nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing, 2sê hy vir die profeet Natan: “Kyk, ek woon in 'n huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in 'n tent.”
3Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. Die Here is by u.”
4Dieselfde nag het daar egter iets gebeur: die woord van die Here het tot Natan gekom en vir hom gesê: 5“Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My 'n huis bou om in te woon? 6Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in 'n huis gewoon nie. Ek het in tent en tabernakel rondgeswerf 7saam met al die Israeliete. Het Ek ooit vir een van die stamme wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My 'n huis wat met sederhout versier is nie?’
8“Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers. 9Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde. 10Ek het 'n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen 11toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou 'n koningshuis gaan vestig. 12Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom 'n bestendige koningskap gee. 13Hy sal vir my Naam 'n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan. 14Ek sal vir hom 'n vader wees en hy sal vir My 'n seun wees. As hy ontrou is, sal Ek mense gebruik om hom te straf, hom te kasty. 15Maar my trou sal Ek nie aan hom onttrek soos Ek dit aan Saul onttrek het om vir jou plek te maak nie. 16Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”
17Volgens hierdie openbaring het Natan die hele boodskap aan Dawid oorgedra.
18Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek, Here my God, en wie is my nageslag dat U my só ver gebring het? 19Selfs dít was vir U nog nie genoeg nie, Here: U het ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak. Wat 'n toesegging aan 'n mens, Here my God!
20“Wat sou ek, Dawid, nog verder vir U kon sê? U ken immers u dienaar, Here. 21U het hierdie groot ding gedoen omdat dit u besluit en wil was en boonop het U dit nog aan u dienaar bekend gemaak. 22Daarom, groot is U, Here my God! Daar is niemand soos U nie. Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het. 23Watter volk is soos u volk Israel? Hulle is die een nasie op die aarde wat U vir U as volk vrygemaak het. U het u Naam bekend gemaak en in hierdie land aan nasies en hulle gode groot en vreeslike dinge gedoen ter wille van u volk wat U vir U uit Egipte vrygemaak het. 24U het u volk Israel vir U gevestig as 'n volk wat vir altyd aan U behoort. En U, Here, U het hulle God geword. 25En nou, Here God, bevestig tog vir altyd wat U oor u dienaar en sy nageslag gesê het. Doen tog soos U belowe het, 26sodat u Naam vir altyd groot kan wees as daar gesê word:
“ ‘Die Here, die Almagtige,
is God van Israel.’
“Laat die nageslag van u dienaar Dawid voor U voortbestaan. 27Here, Almagtige, God van Israel, U het nadruklik vir u dienaar gesê: ‘Ek sal vir jou 'n koningshuis vestig,’ en daarom het u dienaar die vrymoedigheid gehad om hierdie gebed tot U te rig.
28“En nou, Here, U is God. U woorde sal bewaarheid word. U het hierdie goeie belofte aan u dienaar gemaak. 29Begin tog nou en seën die huis van u dienaar om vir altyd in u diens te wees! Here my God, U het gepraat en omdat U seën, is die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën.”