Afrikaans 1983/1992 (AFR83)
7

Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus

71Julle weet, broers – en ek praat met mense wat op hoogte is van die wet van Moses – dat die wet gesag het oor 'n mens so lank as hy lewe. 2Die getroude vrou, byvoorbeeld, is deur die wet aan haar man gebind so lank as hy lewe. As haar man te sterwe kom, is sy onthef van die wet wat haar aan haar man gebind het. 3Maar as sy 'n ander man se vrou word so lank as haar man lewe, sal sy as 'n egbreekster beskou word. As haar man gesterf het, is sy egter vry van die wet en is sy nie 'n egbreekster as sy 'n ander man se vrou word nie. 4Dit is ook die geval met julle, my broers. Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou 'n vrugbare lewe lei in diens van God. 5Toe ons nog 'n sondige lewensbestaan gevoer het, was die sondige hartstogte wat deur die wet wakker gemaak is, in elke deel van ons liggame werksaam en het ons vrugte gedra in diens van die dood. 6Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.

Die wet en die sonde

7Wat is dan ons gevolgtrekking? Dat die wet van Moses sonde is? Beslis nie. Inteendeel, ek sou nie geweet het wat sonde is nie, as dit nie deur die wet was nie. Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.”Vgl. Eks. 20:17; Deut. 5:21 8Maar deur hierdie gebod het die sonde 'n vastrapplek gekry en elke soort begeerte in my aan die gang gesit, want sonder die wet is die sonde dood. 9Voorheen, toe die wet nie daar was nie, het ek gelewe, maar toe die gebod gekom het, het die sonde begin lewe, 10en ek het gesterwe. Dit het geblyk dat die gebod wat bedoel was om vir my die lewe te bring, vir my die dood beteken. 11Die sonde wat deur die gebod 'n vastrapplek gekry het, het my deur die gebod mislei en my doodgemaak.

12Die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed.

13Beteken dit dat iets wat goed is, vir my die dood gebring het? Beslis nie. Inteendeel, die sonde het vir my die dood gebring. Dit het die sonde gedoen deur iets wat goed is, sodat die sonde in sy ware aard as sonde bekend sou word en dit deur die gebod sou blyk hoe skrikwekkend die sonde werklik is. 14Ons weet tog die wet is geestelik, maar ek is aards en soos 'n slaaf aan die sonde verkoop. 15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late 'n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my 'n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.

8

Lewe deur die Gees

81Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.Sommige manuskripte voeg by: ... vir dié wat nie volgens die sondige natuur lewe nie, maar volgens die Gees. 2Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. 3Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. 4Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. 5Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. 6Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. 7Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. 8Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.

9Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. 10Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. 11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

12Daarom dan, broers, staan ons onder 'n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees 'n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. 14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Die heerlikheid wat kom

18Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. 24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. 28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie

31Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?

33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe:

“Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig,

dat ons soos slagskape behandel word.”Vgl. Ps. 44:23

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
9

God se verkiesing van Israel

91In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my 2dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is 3oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees. 4Hulle is tog Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy heerlikheid was Hy by hulle; met hulle het Hy die verbonde gesluit en aan hulle die wet van Moses gegee, asook die tempeldiens en die beloftes; 5hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore – Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen.

6Dit wil nie sê dat die woord van God nie meer geld nie. Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; 7en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie. Inteendeel, die belofte was: “Uit Isak sal daar vir jou 'n nageslag kom.”Gen. 21:12 8Dit wil sê: Dit is nie die kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore is, wat as Abraham se nageslag gereken word. 9Die woorde: “Op dié tyd sal Ek weer kom, en dan sal Sara 'n seun hê,”Gen. 18:10,14 was immers 'n belofte.

10En dis nie al nie. Rebekka was net een keer swanger, deur ons voorvader Isak. 11-13Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.”Gen. 25:23 Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.”Mal. 1:2-3 Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat 'n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep.

14Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! 15Vir Moses het Hy gesê:

“Ek sal barmhartig wees

oor wie Ek barmhartig wil wees,

en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.”Vgl. Eks. 33:19

16Dit hang dus nie af van 'n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is. 17In die Skrif sê God immers vir die farao: “Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.”Vgl. Eks. 9:16

18Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.

Die oordeel en genade van God

19Nou sal jy vir my sê: “Maar waarom verwyt Hy ons dan nog? Wie kan tog teen sy wil ingaan?”

20Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” 21Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie? 22En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra. 23So sou Hy ook die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore voorberei het om aan sy heerlikheid deel te hê. 24En onder hulle is ook ons, wat Hy nie net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies geroep het. 25So sê Hy dan ook in die boek Hosea:

“Hulle wat nie my volk is nie,

sal Ek roep om my volk te wees,

en haar wat geen liefde ontvang het nie,

om my geliefde te wees.”Vgl. Hos. 2:22

26“En in plaas daarvan dat vir hulle gesê is:

‘Julle is nie my volk nie,’

sal hulle geroep word om kinders van die lewende God te wees.”Hos. 1:10

27En Jesaja roep van Israel dít uit:

“Al was die Israeliete so baie soos die sand van die see,

net die handjievol wat oorbly, sal gered word,

28want die Here gaan eens en vir altyd

hier op aarde die saak afhandel.”Vgl. Jes. 10:22-23

29So het Jesaja trouens al vroeër gesê:

“As die Here, die Almagtige,

nie vir ons 'n klompie laat oorbly het nie –

soos met Sodom sou dit met ons gegaan het,

soos Gomorra sou ons uitgewis gewees het.”Vgl. Jes. 1:9

Israel en die evangelie

30Wat is nou ons gevolgtrekking?

Dít: heidene het nie God se vryspraak gesoek nie, maar dit wel gekry – die vryspraak deur die geloof. 31Israel, daarenteen, het 'n wet gesoek waardeur hulle God se vryspraak sou kon kry, maar by so 'n wet het hulle nie uitgekom nie.

32Waarom kon hulle nie die vryspraak kry nie? Omdat hulle nie op die geloof wou bou nie, maar op hulle eie prestasies. Hulle het oor die struikelblok gestruikel 33waarvan daar geskrywe staan:

“Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer waaroor 'n mens struikel,

'n rots waarteen jy jou stamp,

maar wie in Hom glo,

sal nie teleurgestel word nie.”Vgl. Jes. 8:14; 28:16