Afrikaans 1983/1992 (AFR83)
8

Die tweede vermeerdering van die brood

(Matt. 15:32-39)

81In daardie selfde tyd was daar weer 'n keer 'n groot menigte mense by Jesus, en hulle het niks gehad om te eet nie. Hy roep toe sy dissipels nader en sê vir hulle: 2“Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. 3As Ek hulle nou sonder kos huis toe stuur, sal hulle langs die pad beswyk. Party van hulle kom van ver af.”

4Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar sal 'n mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry?”

5Hy vra hulle toe: “Hoeveel brood het julle?”

“Sewe,” antwoord hulle.

6Toe gee Hy die mense bevel om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en God gedank het, het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee om uit te deel, en hulle het dit aan die mense voorgesit. 7Hulle het ook 'n paar vissies gehad; en nadat Hy die seën gevra het, het Hy gesê hulle moet dit ook uitdeel. 8Die mense het geëet en genoeg gekry. En hulle het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die stukke wat oorgebly het. 9Daar was omtrent vier duisend mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur.

10Hy het toe dadelik saam met sy dissipels in die skuit geklim en na die gebied Dalmanuta toe gegaan.

Die Fariseërs vra 'n wonderteken uit die hemel

(Matt. 16:1-4)

11Daar kom toe Fariseërs wat met Jesus begin redeneer. Om Hom op die proef te stel, wou hulle van Hom 'n wonderteken uit die hemel hê. 12Hy het diep gesug en gesê: “Waarom wil hierdie geslag 'n teken hê? Dit verseker Ek julle: Aan hierdie geslag sal beslis nie 'n teken gegee word nie.”

13Hy het hulle daar laat staan, weer in die skuit geklim en na die oorkant van die see toe gegaan.

Die suurdeeg van die Fariseërs en van Herodes

(Matt. 16:5-12)

14Die dissipels het vergeet om brood saam te vat; hulle het net een by hulle in die skuit gehad. 15Jesus het hulle toe gewaarsku: “Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.”

16Hulle het toe vir mekaar gesê dit is omdat hulle nie brood het nie. 17Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Waarom praat julle daaroor dat julle nie brood het nie? Begryp en verstaan julle nog nie? Is julle nog steeds so traag van begrip? 18Julle wat oë het, sien julle dan nie? Julle wat ore het, hoor julle dan nie? Onthou julle nie, 19toe Ek die vyf brode vir die vyf duisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke brood julle oorgehou het nie?”

“Twaalf,” sê hulle vir Hom.

20“En sewe brode vir die vier duisend, hoeveel mandjies vol stukke het julle toe oorgehou?”

“Sewe,” sê hulle vir Hom.

21Toe sê Hy vir hulle: “Verstaan julle dan nog nie?”

Jesus genees 'n blinde man in Betsaida

22Hulle het in Betsaida aangekom, en toe bring die mense 'n blinde man na Jesus toe en vra Hom om hom aan te raak. 23Hy het die blinde man aan die hand gevat en hom uit die dorp uit gelei. Toe het Hy op sy oë gespoeg, sy hande daarop gesit en vir hom gevra: “Sien jy al iets?”

24Hy het sy oë geknip en gesê: “Ek sien mense, iets soos bome. Ek sien hulle loop.”

25Daarna het Jesus weer sy hande op sy oë gesit. Die man het sy oë oopgemaak, en hulle was reg. Hy het alles duidelik gesien. 26Jesus het hom huis toe gestuur en gesê: “Moenie by die dorp aangaan nie.”

Die belydenis van Petrus

(Matt. 16:13-20; Luk. 9:18-21; Joh. 6:66-71)

27Daarna het Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gegaan. Langs die pad het Hy vir die dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is Ek?”

28Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper, party sê weer Elia, en party een van die profete.”

29“Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?”

Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!”

30Toe belet Hy hulle om dit vir iemand anders te vertel.

Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan

(Matt. 16:21-23; Luk. 9:22)

31Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. 32Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe. 33Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe.

“Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”

Om Jesus te volg

(Matt. 16:24-28; Luk. 9:23-27)

34Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 35want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. 36Wat help dit 'n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal 'n mens kan gee in ruil vir sy lewe? 38Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”

9

91Verder het Hy vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan, wat beslis nie sal sterwe voordat hulle gesien het dat die koninkryk van God met krag gekom het nie.”

Die verheerliking op die berg

(Matt. 17:1-8; Luk. 9:28-36)

2Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op 'n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, 3en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie. 4Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat.

5Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

6Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander.

7Daar het toe 'n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar 'n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”

8En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle.

Jesus se dood is naby

(Matt. 17:9-13)

9Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle opdrag gegee om wat hulle gesien het, vir niemand te vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie. 10Hulle het hulle toe aan hierdie opdrag gehou, maar onder mekaar geredeneer oor wat dit beteken as Hy sê dat die Seun van die mens uit die dood sal opstaan.

11Hulle vra Hom toe: “Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elia eers moet kom?”

12“Elia kom wel eers om alles weer reg te maak,” antwoord Hy hulle. “En hoe staan daar ook oor die Seun van die mens geskrywe? Hy moet baie ly en verag word. 13Maar Ek sê vir julle: Elia het reeds gekom, en die mense het met hom gemaak wat hulle wou, net soos daar oor hom geskrywe staan.”

Jesus maak 'n seun gesond

(Matt. 17:14-20; Luk. 9:37-43)

14Toe hulle weer by die ander dissipels kom, sien hulle 'n groot menigte mense daar rondom hulle en skrifgeleerdes wat met hulle redeneer. 15Die hele menigte was verras toe hulle Jesus skielik sien, en het nader gehardloop om Hom te verwelkom. 16Hy het vir die skrifgeleerdes gevra: “Waaroor redeneer julle met my dissipels?”

17Een van die mense het Hom geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring omdat hy van 'n gees besete is wat hom stom maak. 18En elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom op die grond neer. Dan kry hy skuim om die mond en hy kners op sy tande, en sy spiere trek saam. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te drywe, en hulle kon nie.”

19Jesus sê toe vir hulle: “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier na My toe.”

20Hulle het die seun na Hom toe gebring. Net toe die gees vir Jesus sien, het hy die seun geweldige stuiptrekkings laat kry. Hy het op die grond neergeslaan en rondgerol, met skuim om die mond. 21Jesus het vir die pa gevra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?”

22“Van kleins af,” antwoord hy, “en baie keer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.”

23“ ‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.”

24“Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.”

25Toe Jesus sien dat 'n menigte mense aangestroom kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou: Gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom invaar nie!”

26Die gees het hom laat skreeu en hewige stuiptrekkings laat kry en toe uit hom uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, sodat baie mense gesê het: “Hy is dood.”

27Jesus het hom egter aan die hand gevat en opgehelp, en hy het opgestaan.

28Nadat Jesus huis toe gegaan het, toe hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons die gees nie uitdrywe nie?”

29Hy het vir hulle gesê: “Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.”

Jesus kondig die tweede keer sy dood en opstanding aan

(Matt. 17:22-23; Luk. 9:43-45)

30Toe het hulle daarvandaan weggegaan en deur Galilea gereis. Jesus wou nie hê dat iemand anders dit te wete moes kom nie. 31Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: “Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan.”

32Hulle het dit nie verstaan nie, maar hulle was te bang om Hom daaroor uit te vra.

Wie is die belangrikste?

(Matt. 17:24; 18:1-5; Luk. 9:46-48)

33Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: “Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?”

34Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. 35Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.”

36Toe het Hy 'n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê: 37“Elkeen wat so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het.”

“Wie nie téén ons is nie, is vír ons”

(Luk. 9:49-50; vgl. Matt. 12:30; Luk. 11:23)

38Johannes het toe vir Hom gesê: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdrywe. Ons het hom probeer keer, omdat hy ons nie volg nie.”

39“Moet hom nie keer nie,” sê Jesus, “want daar is niemand wat 'n kragtige daad in my Naam sal doen en net daarna minagtend van My sal kan praat nie. 40Wie nie téén ons is nie, is vír ons.

41“Elkeen wat vir julle 'n beker water te drinke sal gee omdat julle aan Christus behoort, hy sal beslis die beloning daarvoor kry. Dit verseker Ek julle.”

Aanleiding tot afvalligheid

(Matt. 18:6-9; Luk. 17:1-2)

42“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig laat word, vir hom is dit baie beter as 'n groot meulsteen aan sy nek vasgemaak en hy in die see gegooi word.

43“As jou hand jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy vermink in die lewe ingaan as dat jy altwee jou hande het en na die hel toe gaan, in die onblusbare vuur.Sommige manuskripte voeg by 44 en 46: “Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie.”, vgl. vers 48; Jes. 66:24. 45En as jou voet jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy kreupel die lewe ingaan as dat jy altwee jou voete het en in die hel gegooi word.Sommige manuskripte voeg by 44 en 46: “Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie.”, vgl. vers 48; Jes. 66:24. 47En as jou oog jou van My afvallig laat word, pluk hom uit! Dit is beter dat jy met een oog die koninkryk van God ingaan as dat jy altwee oë het en in die hel gegooi word. 48Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie.”

Sout en vrede

(Matt. 5:13; Luk. 14:34-35)

49“Almal sal met die vuur van beproewing gelouter word.

50“Sout is goed, maar as sout sy krag verloor het, waarmee sal 'n mens dit weer sout maak?

“Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.”

10

Gesprek oor egskeiding

(Matt. 5:31-32; 19:1-9; Luk. 16:18)

101Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan na die gebied Judea toe vertrek, oorkant die Jordaan langs. Baie mense het weer na Hom toe gekom en, soos Hy gewoond was, het Hy hulle geleer.

2Daar het ook Fariseërs gekom, en om Hom op die proef te stel, het hulle Hom gevra: “Mag 'n man van sy vrou skei?”

3Hy het daarop vir hulle gevra: “Wat het Moses julle beveel?”

4“Moses het toegelaat dat iemand 'n skeibrief opstel en skei,”Vgl. Deut. 24:1 het hulle geantwoord.

5Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat hy hierdie bepaling vir julle gemaak het. 6Maar van die begin af, van die skepping af, ‘het God hulle man en vrou gemaak.’Gen. 1:27 7‘Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, 8en hulle twee sal een wees,’Gen. 2:24 sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. 9Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie.”

10In die huis het die dissipels Hom weer hieroor uitgevra. 11Hy sê toe vir hulle: “Elkeen wat van sy vrou skei en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk teen sy vrou. 12En as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander een trou, pleeg sy egbreuk.”

Jesus seën die kindertjies

(Matt. 19:13-15; Luk. 18:15-17)

13Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas. 14Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 15Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

16Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.

Die ryk jongman

(Matt. 19:16-30; Luk. 18:18-30)

17Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

18Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. 19Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’Eks. 20:13-16; Deut. 5:17-20 jy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder.Eks. 20:12; Deut. 5:16

20“Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.”

21Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”

22Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23Jesus kyk toe na sy dissipels rondom Hom en sê vir hulle: “Hoe moeilik sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom.”

24Die dissipels was verbaas oor hierdie woorde van Hom. Jesus sê toe verder vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit om in die koninkryk van God te kom. 25Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

26Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?”

27Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”

28Petrus sê toe vir Hom: “Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U.”

29Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, 30of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. 31Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

Jesus kondig die derde keer sy dood en opstanding aan

(Matt. 20:17-19; Luk. 18:31-34)

32Op pad Jerusalem toe het Jesus voor hulle uit geloop. Dit het die dissipels verontrus en die mense wat agterna gekom het, laat bang word.

Toe het Hy weer die twaalf opsy geneem en hulle begin vertel wat met Hom gaan gebeur: 33“Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom aan die heidene uitlewer. 34Dié sal met Hom spot en op Hom spoeg en Hom slaan en Hom doodmaak. En drie dae later sal Hy uit die dood opstaan.”

Die versoek van Jakobus en Johannes

(Matt. 20:20-28)

35Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Here, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra.”

36“Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” het Hy hulle gevra.

37Hulle het Hom geantwoord: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”

38“Julle weet nie wat julle vra nie,” sê Jesus vir hulle. “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?”

39“Ons kan,” sê hulle vir Hom.

Daarop sê Jesus vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, ja, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. 40Maar om aan my regter- of my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie God dit gereed gemaak het.”

41Toe die tien ander dit hoor, was hulle verontwaardig oor Jakobus en Johannes. 42Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. 43Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; 44en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. 45Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Jesus genees die blinde Bartimeus

(Matt. 20:29-34; Luk. 18:35-43)

46Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en 'n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar 'n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad. 47Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

48Baie mense het met hom geraas en gesê hy moet stilbly. Maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

49Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.”

Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.”

50Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. 51Jesus vra vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”

“Rabboeni,” sê die blinde man vir Hom, “dat ek kan sien.”

52Jesus sê daarop vir hom: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.”

Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan.