Afrikaans 1983/1992 (AFR83)
5

Die besetene van Gerasa

(Matt. 8:28-34; Luk. 8:26-39)

51Daarna het hulle oorkant die see in die land van die Geraseners aangekom. 2Net toe Jesus uit die skuit klim, het daar van die grafte af 'n man met 'n onrein gees Hom tegemoet gekom.

3Die man het tussen die grafte gebly. Niemand kon hom selfs met 'n ketting vasbind nie, 4want hulle het hom al dikwels met voet- en handboeie vasgemaak, maar dan ruk hy die handboeie uitmekaar en skop die voetboeie stukkend. Niemand kon hom baasraak nie. 5Hy was dag en nag aan die skreeu tussen die grafte en in die berge, en dan kap hy homself met klippe.

6Hy het Jesus al van ver af gesien en nader gehardloop. Hy het voor Hom neergeval 7en hard geskreeu: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U: In Gods Naam, moet my nie pynig nie!” 8want Jesus het vir hom gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!”

9Hy het hom toe gevra: “Wat is jou naam?”

“My naam is Legio,” antwoord hy Hom, “want ons is baie.”

10Die man het Hom toe ernstig gesoebat om hulle nie uit die landstreek uit weg te stuur nie. 11Daar naby teen die berg het 'n groot trop varke geloop. 12Die onrein geeste het Hom toe gesmeek: “Stuur ons na die varke toe, sodat ons in hulle kan invaar!”

13Hy het hulle dit toegelaat, en hulle het uitgegaan en in die varke ingevaar. Die hele trop van omtrent twee duisend het op loop gesit teen die hang af, die see in, en hulle het versuip.

14Hulle wagters het weggehardloop en dit in die dorp en op die plase gaan vertel. Die mense het kom kyk wat daar gebeur het. 15Toe hulle by Jesus kom en die besetene in wie die baie bose geeste was, daar sien sit met sy klere aan en by sy volle verstand, het hulle groot geskrik. 16Dié wat alles gesien het, het vir hulle vertel wat met die besetene gebeur het, en ook van die varke. 17Hulle het toe by Jesus daarop aangedring om uit hulle gebied uit weg te gaan.

18Toe Jesus in die skuit klim, het die man wat van die duiwel besete was, by Hom daarop aangedring om saam met Hom te gaan. 19Jesus het hom dit egter nie toegelaat nie maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het.”

20Hy het toe gegaan en deur die hele Dekapolis begin bekend maak wat Jesus alles vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor.

Die dogtertjie van Jaïrus. Die vrou met bloedvloeiing

(Matt. 9:18-26; Luk. 8:40-56)

21Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het 'n groot menigte om Hom saamgedrom. 22Een van die raadslede van die sinagoge, 'n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom 23en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”

24Hy het saam met hom gegaan. 'n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk.

25Daar was ook 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

32Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

35Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?”

36Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

37Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. 38Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. 39Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.”

40Hulle het Hom uitgelag.

Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. 41Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

42Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. 43Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.