Afrikaans 1983/1992 (AFR83)
3

Die prediking van Johannes die Doper

(Matt. 3:1-12; Mark. 1:1-8; Joh. 1:19-28)

31Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters.

2In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. 3Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 4So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja:

“Iemand roep in die woestyn:

Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.

5Elke kloof moet opgevul en elke berg en bult platgemaak word;

die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk word.

6En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.”Vgl. Jes. 40:3-5

7Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

10Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”

11Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”

12Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?”

13En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”

14Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?”

Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”

15Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”

18Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.

19Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het. 20Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit.

Die doop van Jesus

(Matt. 3:13-17; Mark. 1:9-11)

21Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan 22en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos 'n duif op Hom neergedaal. Daar was ook 'n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Die geslagsregister van Jesus

(Matt. 1:1-17)

23Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy omtrent dertig jaar oud. Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef. Josef was die seun van Eli, 24seun van Mattat, seun van Levi, seun van Melgi, seun van Jannai, seun van Josef, 25seun van Mattatias, seun van Amos, seun van Nahum, seun van Hesli, seun van Naggai, 26seun van Mahat, seun van Mattatias, seun van Semeïn, seun van Josek, seun van Joda, 27seun van Johanan, seun van Resa, seun van Serubbabel, seun van Sealtiël, seun van Neri, 28seun van Melgi, seun van Addi, seun van Kosam, seun van Elmadam, seun van Er, 29seun van Josua, seun van Eliëser, seun van Jorim, seun van Mattat, seun van Levi, 30seun van Simeon, seun van Juda, seun van Josef, seun van Jonam, seun van Eljakim, 31seun van Melea, seun van Menna, seun van Mattata, seun van Natan, seun van Dawid, 32seun van Isai, seun van Obed, seun van Boas, seun van Sala, seun van Nagson, 33seun van Amminadab, seun van Admin, seun van Arni, seun van Gesron, seun van Peres, seun van Juda, 34seun van Jakob, seun van Isak, seun van Abraham, seun van Tera, seun van Nahor, 35seun van Serug, seun van Rehu, seun van Peleg, seun van Heber, seun van Sala, 36seun van Kenan, seun van Arpagsad, seun van Sem, seun van Noag, seun van Lameg, 37seun van Metusalag, seun van Henog, seun van Jered, seun van Mahalalel, seun van Kenan, 38seun van Enos, seun van Set, seun van Adam, die seun van God.

4

Die versoeking van Jesus

(Matt. 4:1-11; Mark. 1:12-13)

41Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, 2waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, sodat Hy aan die einde daarvan honger was.

3Die duiwel sê toe vir Hom: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.”

4Maar Jesus antwoord hom: “Daar is geskrywe: 'n Mens leef nie net van brood nie.Deut. 8:3

5Daarna bring die duiwel Hom op 'n hoogte en wys Hom in 'n oogwink al die koninkryke van die wêreld. 6Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. 7Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.”

8Daarop antwoord Jesus: “Daar staan geskrywe:

“Die Here jou God moet jy aanbid

en Hom alleen dien.Deut. 6:14

9Hierna neem die duiwel Hom na Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan, en sê: 10“As U die Seun van God is, spring hier af! Daar staan mos geskrywe:

“Hy sal sy engele opdrag gee

om jou te beskerm,Vgl. Ps. 91:11

11“en ook:

“Op hulle hande sal hulle jou dra

sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.Ps. 91:12

12Maar Jesus antwoord hom: “Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.Deut. 6:16

13Nadat die duiwel met al die versoekings klaar was, het hy Jesus 'n tyd lank met rus gelaat.

Jesus in Galilea

(Matt. 4:12-17; Mark. 1:14-15)

14Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees, en berigte oor Hom het deur die hele omgewing versprei. 15Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat.

Jesus word uit Nasaret verdryf

(Matt. 13:53-58; Mark. 6:1-6)

16Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, 17is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan:

18“Die Gees van die Here is op My

omdat Hy My gesalf het

om die evangelie aan armes te verkondig.

Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur,

19om die genadejaar van die Here aan te kondig.”Vgl. Jes. 61:1-2; 58:6

20Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. 21Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”

22Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. En hulle sê: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?”

23Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou: ‘Geneesheer, genees jouself’ en vir My sê: ‘Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen nou dieselfde dinge ook hier waar jy grootgeword het.’ 24Maar dit verseker Ek julle,” sê Hy verder, “geen profeet word in die plek waar hy grootgeword het, aanvaar nie. 25Ek sê vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar 'n groot hongersnood in die hele land gekom het. 26Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na 'n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon. 27En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van die profeet Elisa. Tog is nie een van hulle genees nie, maar wel Naäman, die Siriër.”

28Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. 29Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi. 30Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan.

Die besetene in Kapernaum

(Mark. 1:21-28)

31Daarna het Hy na Kapernaum toe gegaan, 'n dorp in Galilea, en die mense gereeld op die sabbatdag geleer. 32Hulle was verbaas oor sy leer, want Hy het met gesag gepraat.

33In die sinagoge was daar 'n man wat in die mag was van 'n bose, onrein gees, en hy het hard geskreeu: 34“Ha! Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet wie U is: U is die Heilige van God!”

35Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!”

En die bose gees het die man tussen die mense laat neerslaan en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak. 36Almal was baie verbaas, en hulle raak aan die praat en vra vir mekaar: “Wat vir 'n woord is dit dat hy met gesag en mag die onrein geeste gebied, en hulle gaan uit?”

37En berigte oor Hom het na elke plek in die omgewing versprei.

Die genesing van Petrus se skoonmoeder

(Matt. 8:14-17; Mark. 1:29-34)

38Toe Jesus die sinagoge verlaat, het Hy na die huis van Simon toe gegaan. Die skoonmoeder van Simon het siek gelê met 'n hewige koors, en hulle het Hom gevra om iets vir haar te doen. 39Hy het by die koppenent van die bed gaan staan en die koors bestraf. Dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien.

40Met sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom toe gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak. 41Ook bose geeste het uit baie uitgegaan terwyl hulle skreeu: “U is die Seun van God!” En Jesus het hulle skerp aangespreek en hulle nie toegelaat om sulke dinge te sê nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus is.

Jesus verlaat Kapernaum

(Mark. 1:35-39)

42Teen dagbreek het Hy uitgegaan en na 'n eensame plek toe vertrek. Die mense het Hom begin soek, en toe hulle by Hom uitkom, het hulle Hom probeer beweeg om nie van hulle af weg te gaan nie. 43Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek moet ook aan die ander dorpe die evangelie van die koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur.”

44En Hy het voortgegaan om in die sinagoges van die Joodse land te preek.

5

Die roeping van die eerste dissipels

(Matt. 4:18-22; Mark. 1:16-20)

51Op 'n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor, 2sien Hy twee skuite aan die kant van die meer lê. Die vissers het uitgeklim en was besig om die nette uit te spoel. 3Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit 'n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer.

4Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.”

5“Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.”

6En toe hulle dit doen, het hulle so 'n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur. 7Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het.

8Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens.”

9Hy en almal wat saam met hom was, was stom verbaas oor die groot klomp vis wat hulle gevang het. 10Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Toe sê Jesus vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.”

11En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword.

Die genesing van 'n melaatse

(Matt. 8:1-4; Mark. 1:40-45)

12Eendag toe Jesus in een van die dorpe was, kom Hy 'n man teë wat oortrek was van die melaatsheid. Toe die man Hom sien, val hy op sy knieë voor Hom en smeek: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”

13Jesus steek sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!”

En sy melaatsheid was onmiddellik weg.

14Toe gee Jesus hom opdrag: “Moet dit aan niemand vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring offers vir jou reiniging soos Moses voorgeskryf het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.”

15Tog het die nuus oor Hom nog verder versprei, en groot menigtes het saamgedrom om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. 16Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.

'n Verlamde man word gesond gemaak

(Matt. 9:1-8; Mark. 2:1-12)

17Op een van dié dae, terwyl Jesus besig was om die mense te leer, het daar ook Fariseërs en leermeesters van die wet van Moses gesit wat van oral af uit die dorpe van Galilea en Judea en selfs uit Jerusalem gekom het. En die Here het vir Jesus die krag gegee om mense gesond te maak.

18Onverwags kom daar mense met 'n verlamde man op 'n draagbaar aan, en hulle probeer om hom die huis in te bring en voor Jesus neer te sit. 19Toe hulle vanweë die gedrang nie kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met draagbaar en al deur 'n opening tussen die dakteëls afsak tussen die mense in en vlak voor Jesus. 20Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.”

21Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het hulle begin afvra: “Wie is hy dat hy so godslasterlik praat? Wie anders kan sondes vergewe as net God alleen?”

22Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk en vir hulle gesê: “Wat redeneer julle by julleself? 23Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? 24Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.”

Toe sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.”

25Onmiddellik het hy voor hulle oë opgestaan, die draagbaar waarop hy gelê het, gevat en terwyl hy God prys, huis toe gegaan. 26Almal het verbaas gestaan en God geprys en vol eerbiedige vrees gesê: “Vandag het ons ongelooflike dinge gesien.”

Die roeping van Levi

(Matt. 9:9-13; Mark. 2:13-17)

27Daarna het Jesus uitgegaan en 'n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.”

28Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg.

29Levi het 'n groot feesmaal in sy huis gehou ter ere van Jesus, en 'n groot aantal tollenaars en ander mense het saam met hulle aangesit. 30Die Fariseërs, en veral die skrifgeleerdes onder hulle, het by sy dissipels gekla en gesê: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?”

31Toe antwoord Jesus hulle: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. 32Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars.”

Wat dit beteken om te vas

(Matt. 9:14-17; Mark. 2:18-22)

33Die mense sê toe vir Jesus: “Die volgelinge van Johannes vas dikwels en onderhou gereelde gebedstye, en so ook die volgelinge van die Fariseërs, en u dissipels eet en drink maar.”

34Toe sê Jesus vir hulle: “Kan julle dan die bruilofsgaste laat vas terwyl die bruidegom by hulle is? 35Daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word en dan, in daardie dae, sal hulle vas.”

36Hy vertel hulle ook nog 'n gelykenis: “Niemand skeur 'n stuk uit nuwe klere om daarmee ou klere te lap nie. As hy dit sou doen, sou die nuwe klere stukkend wees, en buitendien sal die nuwe lap nie by die ou klere pas nie.

37“En niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe wyn die velsakke laat oopbars. Dan is die wyn vermors en die sakke daarmee heen. 38Nee, nuwe wyn moet in nuwe velsakke gegooi word.

39“En niemand wat ou wyn gedrink het, wil nuwe wyn hê nie, want hy sê: Die oue is goed.”