Afrikaans 1983/1992 (AFR83)
30

Die wierookaltaar

(Vgl. Eks. 37:25-28)

301“Jy moet 'n altaar van doringhout maak om daarop wierook te brand. 2Dit moet 'n half meter in die vierkant wees en 'n meter hoog. Sy horings moet 'n eenheid daarmee vorm. 3Jy moet die bokant, die sye rondom, en die horings met suiwer goud oortrek en 'n goue lys rondom die altaar vassit. 4Jy moet twee goue ringe vir elke kant maak en dit aan weerskante teenoor mekaar, onderaan die lys vassit om die draaghoute waarmee jy die altaar moet dra, daardeur te steek. 5Jy moet die draaghoute van doringhout maak en hulle met goud oortrek. 6Sit die altaar dan neer voor die voorhangsel wat hang voor die ark met die getuienis, voor die deksel op die getuienis waar Ek jou sal ontmoet. 7Elke oggend wanneer Aäron die lampe versorg, moet hy geurige wierook op die altaar brand. 8Elke aand wanneer hy die lampe aansteek, moet hy wierook brand. Die wierookoffer moet altyd, ook deur julle nageslag, vir My, die Here, gebring word.

9“Julle mag nie ongeoorloofde wierook op die wierookaltaar brand nie, ook nie brandoffers of graanoffers nie, en nie 'n drankoffer daarop uitgiet nie.

10“Aäron moet een keer per jaar op die horings van die altaar versoening doen met die bloed van die sondeoffer. Ook julle nageslag moet een keer per jaar op die horings versoening doen. Die altaar is op 'n besondere manier gewy aan My, die Here.”

Die versoeningsoffer tydens 'n sensus

11Die Here het verder vir Moses gesê: 12“Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wanneer hy getel word, 'n versoeningsoffer vir sy lewe aan My, die Here, offer. Dan sal hy nie deur 'n ramp getref word wanneer hy getel word nie.

13“Elkeen wat kom om getel te word, moet met silwer betaal, ses gram volgens die standaardgewig van die heiligdom. Die ses gram is 'n offergawe vir My, die Here. 14Elkeen van twintig jaar en ouer wat kom om getel te word, moet die offergawe vir My bring.

15“Die ryke moet nie meer en die arme nie minder as die offergawe van ses gram silwer vir My bring as versoeningsoffer vir sy lewe nie. 16Jy moet die versoeningsgeld by die Israeliete insamel en dit aan die priesters gee vir die diens in die tent van ontmoeting. Die versoeningsgeld sal My, die Here, laat dink aan die Israeliete en sal hulle lewens loskoop.”

Die bronswaskom

(Vgl. Eks. 38:8)

17Die Here het vir Moses gesê: 18“Jy moet 'n bronswaskom met 'n bronsvoetstuk maak om in te was. Sit dit tussen die tent van ontmoeting en die altaar neer en gooi water daarin. 19Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was. 20Voordat hulle in die tent van ontmoeting ingaan, moet hulle hulle met die water was sodat hulle nie sterf nie. Voordat hulle na die altaar toe kom vir hulle diens om 'n vuuroffer vir My, die Here, aan die brand te steek, 21moet hulle hulle hande en hulle voete was sodat hulle nie sterf nie. Dit is 'n blywende voorskrif vir hulle en vir hulle nageslagte.”

Die salfolie

22Die Here het vir Moses gesê: 23-24“Gebruik die standaardmaat van die heiligdom en meet die volgende speserye af: vyf honderd dele vloeibare mirre, die helfte soveel geurige kaneel, twee honderd en vyftig dele geurige kalmoes, vyf honderd dele kassie, en vier liter olyfolie. 25Maak daarvan gewyde salfolie, goed gemeng soos wanneer 'n vakman parfuum maak. Dit is die gewyde salfolie.

26“Jy moet die tent van ontmoeting en die ark waarin die getuienis is, daarmee salf, 27en verder ook nog die tafel met al sy toebehore, die kandelaar met al sy toebehore, die wierookaltaar, 28die brandofferaltaar met al sy toebehore, en ook die waskom met sy voetstuk. 29Jy moet dit wy en dan sal dit besonder gewyd wees. Alles wat daaraan raak, sal ook gewyd wees.

30“Jy moet ook vir Aäron en sy seuns salf en hulle so wy om as priesters vir My diens te doen. 31Sê vir die Israeliete: Dit is die gewyde salfolie wat deur al julle geslagte heen aan My sal behoort. 32Dit mag nie sommer op enige mens uitgegiet word nie. Hierdie mengsel mag julle vir geen ander doel gebruik nie. Dit is gewy en dit moet vir julle gewyd wees. 33Iemand wat so 'n mengsel maak en aan 'n onbevoegde persoon gee, moet van sy volk afgesny word.”

Die wierookoffer

34Die Here het verder vir Moses gesê: “Vat die volgende geurige speserye in gelyke hoeveelhede: hars, naeltjies, galbanum en suiwer wierook. 35Berei dit as wierookoffer. Meng dit soos 'n vakman dit doen. Dit moet gesout wees, rein en gewyd. 36Vryf dit fyn tot 'n poeier en sit daarvan neer voor die getuienis in die tent van ontmoeting waar Ek jou sal ontmoet. Die wierookoffer moet vir julle besonder gewyd wees. 37Wat die wierook betref wat jy voorberei, niemand van julle mag dit volgens dieselfde voorskrif vir homself voorberei nie. Dit moet gewyd wees vir julle, aan My, die Here, gewy. 38Enigiemand wat so 'n mengsel voorberei om aan te ruik, moet van sy volk afgesny word.”

31

Vakmanne om die tent van ontmoeting te bou

(Vgl. Eks. 35:30 – 36:1)

311Die Here het vir Moses gesê: 2“Kyk, Ek het vir Besaleël uitgekies. Hy is 'n seun van Uri, seun van Gur uit die stam Juda. 3Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen: 4ontwerpe maak en dit in goud, silwer en brons uitwerk, 5edelstene verwerk en monteer, en houtwerk doen. Hy sal enige werk kan doen. 6Ek het vir Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, aangestel om saam met hom te werk. Aan elke vakman het Ek vaardigheid gegee sodat hulle alles kan maak wat Ek jou beveel het: 7die tent van ontmoeting, die ark met die getuienis daarin en die deksel daaroor, al die toebehore van die tent, 8die tafel met sy toebehore, die kandelaar van suiwer goud met sy toebehore, die wierookaltaar, 9die brandofferaltaar met al sy toebehore, die waskom met sy voetstuk, 10die geborduurde klere wat gewy is vir die priester Aäron en sy seuns om daarin as priesters diens te doen, 11die salfolie en die geurige wierook vir die heiligdom. Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het.”

Die rusdag

12Die Here het vir Moses gesê: 13“Jy moet vir die Israeliete sê: Onderhou my sabbatte. Dit is van geslag tot geslag 'n teken tussen My en julle sodat julle kan besef dat Ek, die Here, julle vir My geheilig het. 14Onderhou dus die sabbat. Dit moet vir julle 'n gewyde dag wees. Hy wat dit ontwy, moet doodgemaak word. Wie op dié dag werk, moet van sy volk afgesny word. 15Ses dae kan daar gewerk word, maar die sewende dag is 'n rusdag, 'n sabbat wat gewy is aan My, die Here. Elkeen wat op die sabbatdag werk, moet doodgemaak word.

16“Die Israeliete moet die sabbat onderhou. Ook op hulle nageslag lê die verbond 'n blywende verpligting om die sabbat te onderhou. 17Dit sal vir altyd 'n teken wees tussen My en die Israeliete. In ses dae het Ek, die Here, die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Ek nie gewerk nie, maar gerus.”

18Nadat die Here op Sinaiberg met Moses gepraat het, het Hy die twee plat klippe met die getuienis daarop aan Moses gegee. Dit is die plat klippe waarop God met sy vinger geskryf het.

32

Die goue kalf

321Toe die volk sien dat Moses talm en nie van die berg af kom nie, het hulle om Aäron saamgedrom en vir hom gesê: “Kom maak vir ons 'n god dat hy ons kan lei. Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.”

2Aäron het hulle geantwoord: “Haal die goue oorringe van julle vrouens, julle seuns en julle dogters se ore af en bring dit vir my.”

3Die hele volk het toe die goue ringe van hulle ore afgehaal en dit vir Aäron gebring. 4Hy het dit van hulle ontvang, dit verwerk en daarvan 'n beeld in die vorm van 'n bulkalf gemaak.

Toe sê die volk: “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!”

5Toe Aäron dit hoor, het hy 'n altaar voor die beeld gebou en uitgeroep: “Môre is daar fees vir die Here!”

6Vroeg die volgende môre het die volk brandoffers en maaltydoffers geoffer. Daarna het die volk begin feesvier en losbandig te kere gegaan. 7Toe sê die Here vir Moses: “Klim van die berg af, want jou volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het, het iets vreesliks gedoen. 8Hulle het gou die pad verlaat wat Ek vir hulle aangewys het en hulle het vir hulle 'n beeld van 'n bulkalf gemaak. Nou aanbid hulle hom en bring vir hom offers en sê: Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel.”

9Verder het die Here vir Moses gesê: “Ek het gesien dat dit 'n opstandige volk is hierdie. 10Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot 'n groot nasie maak.”

11Maar Moses het by die Here sy God gepleit en gesê: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het? 12Waarom moet die Egiptenaars kan sê: ‘Hy het die Israeliete bevry met die bose plan om hulle tussen die berge dood te maak en hulle heeltemal te vernietig’?

“Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie. 13Dink aan wat U met 'n eed beloof het aan u dienaars, aan Abraham, Isak en Israel toe U vir hulle gesê het: Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Die hele landstreek wat Ek belowe het, sal Ek vir julle nageslag gee om vir altyd in besit te neem.”

14Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring.

15Daarna het Moses omgedraai en van die berg af gegaan met die twee plat klippe waarop die getuienis was, in sy hand. Aan weerskante was daar op hulle geskryf, 16en dit was die werk van God. Dit was 'n inskripsie wat deur God op die klippe gegraveer is.

17Toe Josua die volk hoor lawaai, sê hy vir Moses: “Daar is oorlog in die kamp!”

18Maar Moses het gesê:

“Dit klink nie na oorwinning nie,

dit klink nie na neerlaag nie,

wat ek hoor, klink na feesviering.”

19Toe Moses naby die kamp kom en die kalf en die dansery sien, het hy woedend geword en die twee plat klippe in sy hand flenters gegooi teen die voet van die berg. 20Daarna vat hy die kalf wat hulle gemaak het, gooi dit in die vuur, maal dit fyn soos stof en strooi dit op die water. Toe laat hy die Israeliete die water drink.

21Moses het vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy hulle hierdie groot sonde laat doen het?”

22Maar Aäron antwoord: “U moenie kwaad wees nie. U weet self hoe sleg die volk is. 23Hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons 'n god dat hy ons kan lei. Hierdie Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.’ 24Toe sê ek vir hulle: ‘Dié wat goud aan hulle het, moet dit afhaal en vir my gee.’ Ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie bulkalf het daaruit gekom.”

25Toe Moses hoor dat dit die volk is wat op loop gesit het, en dat dit Aäron is wat hulle op loop laat sit het, sodat hulle 'n spot by hulle vyande geword het, 26het hy by die ingang van die kamp gaan staan en gesê: “Wie vir die Here is, kom hier na my toe!”

Al die Leviete het om hom bymekaargekom.

27Moses sê toe vir hulle: “So sê die Here die God van Israel: Elkeen moet sy swaard vat, kruis en dwars deur die kamp gaan en doodmaak, ongeag of dit familie, vriende of bure is.”

28Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het, en daardie dag is sowat drie duisend om die lewe gebring.

29Toe het Moses vir die Leviete gesê: “Vandag is julle gewy vir diens aan die Here, want julle het selfs teen seuns en broers opgetree. Om hierdie rede gee die Here vandag aan julle hierdie besondere voorreg.”

30Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het 'n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.”

31Moses het toe na die Here toe teruggegaan en gesê: “Hierdie volk het 'n ernstige sonde gedoen deur vir hulle 'n god van goud te maak. 32Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.”

33Maar die Here het hom geantwoord: “Nee, Ek sal hulle wat teen My gesondig het, se name uit my boek uitvee. 34Gaan lei jy nou die volk na die plek toe waarvan Ek met jou gepraat het. My engel sal voor jou uit gaan. Op die dag dat Ek rekenskap eis, sal Ek die volk straf oor hulle sonde.”

35Die Here het die volk met 'n ramp getref oor die kalf wat Aäron op hulle aandrang gemaak het.