Afrikaans 1983/1992 (AFR83)
20

Die Here slaan die aanval uit die ooste af

201Later het die Moabiete en die Ammoniete, en saam met hulle 'n groep MeünieteDie gebruikte grondteks lees “Ammoniete”, maar vgl. 2 Kron. 26:7., 'n veldtog teen Josafat begin.

2Josafat het berig gekry: “'n Groot menigte van oorkant die Dooie See, van Edom af, het teen u opgetrek. Hulle is al by Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.”

3Josafat was bang en het by die Here hulp gesoek. Hy het 'n vasdag in die hele Juda uitgeroep, 4en die Judeërs het bymekaargekom om die hulp van die Here te vra. Uit al die stede van Juda het hulle gekom om die Here se hulp te vra.

5Josafat het opgestaan in die gemeente van Juda en Jerusalem, in die tempel reg voor die nuwe voorhof, 6en gebid: “Here, God van ons voorvaders, U is God. U heers uit die hemel oor al die koninkryke van die nasies. Uit u hand kom die mag en die krag. Niemand kan teen U stand hou nie. 7Dit is U, ons God, wat die vroeëre inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdryf het en die land aan die nageslag van u vriend Abraham as 'n blywende besitting gegee het. 8Hulle het hulle hier gevestig en hier vir u Naam 'n heiligdom gebou en gesê: 9‘As U 'n ramp oor ons bring, of 'n oorlog om ons te straf, of pes, of hongersnood, sal ons voor hierdie tempel kom staan, voor U, want u Naam is in hierdie tempel, en ons sal na U om hulp roep uit ons nood. Hoor dan en help ons!’

10“Nou het die mense van Ammon en Moab en die Seïrberge gekom. U het Israel met sy trek uit Egipte nie toegelaat om in hulle gebied te kom nie. Die Israeliete het daardie mense vermy en hulle nie uitgeroei nie. 11Maar nou vergoed hulle ons deur te kom en ons uit u besitting te wil verdryf wat U aan ons gegee het. 12Ons God, sal U hulle nie straf nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, te weerstaan nie. Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig.”

13Die hele Juda en hulle afhanklikes, vrouens en kinders, het daar voor die Here gestaan. 14Toe kom die Gees van die Here daar in die gemeente oor die Leviet Jagasiël seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, uit die nageslag van Asaf, 15en sê: “Luister, mense van Juda, inwoners van Jerusalem en koning Josafat! So sê die Here vir julle: Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie 'n saak vir julle nie, maar vir God. 16Trek hulle môre tegemoet wanneer hulle in die Bloeiselpas opkom. Julle sal hulle aantref by die punt van die vallei wat in die Jeruelwoestyn uitloop. 17Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle. Moenie vrees nie, Juda en Jerusalem, moenie bang wees nie. Trek hulle môre tegemoet. Die Here sal by julle wees.”

18Toe kniel Josafat, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here gebuig en Hom eer betoon. 19Daarna het die Leviete van die Kehat- en die Koraggroepe opgestaan en die Here die God van Israel uit volle bors geprys.

20Josafat-hulle is die volgende môre vroeg uit na die Tekoawoestyn toe. Terwyl die manne vertrek, het Josafat daar gestaan en hulle toegespreek: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Stel julle vertroue in die Here julle God, en julle sal vas staan. Stel julle vertroue in sy profete, en dit sal goed gaan met julle.”

21Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here geloof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.”Vgl. Ps. 136

22Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle het die een neerlaag na die ander gely. 23Toe val die Ammoniete en die Moabiete die inwoners van die Seïrberge aan en spaar niemand nie en roei hulle uit. En toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar begin uitdelg.

24Toe die Judeërs by die uitkykpos teenaan die woestyn kom en na die magtige vyand soek, lê daar net lyke op die grond. Daar was nie een oorlewende nie. 25Josafat en sy manskappe het die buit bymekaar kom maak en 'n groot hoeveelheid gekry: persoonlike besittings aan die lyke en allerlei kosbare goed. Hulle het soveel gekry dat hulle dit nie kon dra nie. Drie dae lank was hulle besig om die buit bymekaar te maak, soveel was dit. 26Op die vierde dag het hulle 'n samekoms gehou in die Lofdal. Hulle het die Here daar geloof, daarom noem hulle dié plek tot vandag toe die Lofdal.

27Al die manne van Juda en Jerusalem, met Josafat aan die hoof, is toe met groot blydskap terug Jerusalem toe. Die Here het hulle bly gemaak oor hulle vyande. 28Hulle is terug na Jerusalem, na die huis van die Here toe, met harpe, liere en trompette. 29Al die koninkryke was van skrik bevange vir God toe hulle hoor dat die Here oorlog gevoer het teen die vyande van Israel. 30Die heerskappy van Josafat het rustig voortgegaan, en sy God het hom na alle kante toe rus gegee.

Die dood van Josafat

31Josafat het oor Juda geregeer. Hy was vyf en dertig toe hy koning geword het en het vyf en twintig jaar lank in Jerusalem geregeer. Sy ma was Asuba 'n dogter van Silgi. 32Hy het die pad van Asa, sy pa, geloop en daar nie van afgewyk nie. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here. 33Die hoogtes het egter nie verdwyn nie, en die volk het hulle hart nog nie voluit op die God van hulle voorvaders gerig nie. 34Die ander verhale oor Josafat, dié van vroeër en dié van later, is opgeteken in Die Verhale van Jehu Seun van Ganani, wat opgeneem is in die annale van die konings van Israel.

35Later het koning Josafat van Juda 'n vennootskap aangegaan met koning Ahasia van Israel, 'n goddelose man. 36Josafat het die vennootskap met hom aangegaan om skepe te bou wat na Tarsis toe kon vaar. Hulle het die skepe gebou in Esjon-Geber. 37Eliëser seun van Dodawa, uit Maresa, het 'n profesie teen Josafat uitgespreek en gesê: “Omdat jy 'n vennootskap met Ahasia aangegaan het, sal die Here hierdie onderneming van jou laat misluk.”

Die skepe het vergaan en het Tarsis nie bereik nie.