Afrikaans 1983/1992 (AFR83)
1

11Van Paulus, Silvanus en Timoteus.

Aan die gemeente van die Tessalonisense, wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.

Genade en vrede vir julle!

Die voorbeeld van die Tessalonisense

2Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou 3bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus. 4Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, 5want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het, en dít om julle ontwil. 6En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met 'n blydskap wat van die Heilige Gees kom. 7So het julle 'n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje. 8Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie. 9Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien 10en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.

2

Paulus se werk in Tessalonika

21Julle weet tog self, broers, dat ons koms na julle toe nie op 'n mislukking uitgeloop het nie. 2Inteendeel, al is ons kort tevore in Filippi beledig en mishandel, soos julle weet, het ons God ons die moed gegee om sy evangelie aan julle te verkondig ondanks felle teenkanting. 3Ons prediking berus immers nie op dwaling nie, kom ook nie voort uit onsuiwer beweegredes nie en is sonder enige bybedoelings. 4Nee, God het ons gekeur en die evangelie aan ons toevertrou, en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets.

5Met vleitaal het ons ons nooit opgehou nie, soos julle trouens weet. Hebsug was nooit ons verborge motief nie; daarvan is God ons getuie. 6Ons het nooit daarna gestreef dat mense ons sou eer nie, of dit nou julle is of ander 7al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het. Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos 'n ma wat haar kinders vertroetel. 8So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry. 9Julle onthou immers nog, broers, hoe ons geswoeg en gesweet het. Dag en nag het ons gewerk om nie vir enigeen van julle 'n las te wees terwyl ons die evangelie van God aan julle verkondig het nie.

10Julle, en ook God, is getuie van hoe suiwer, reg en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo. 11Net so weet julle ook hoe ons elkeen van julle behandel het: soos 'n pa sy kinders 12het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy koninkryk in te gaan en so aan sy heerlikheid deel te hê.

13Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys. 14Broers, dit het met julle gegaan soos met die gemeentes van God in Judea, hulle wat aan Christus Jesus behoort: julle moes van julle volksgenote dieselfde behandeling verduur as wat die gelowiges in Judea onder die Jode moes ly. 15Dit is die Jode deur wie die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg is. Wat God wil, doen hulle nie, en hulle is vyandig teenoor alle mense; 16hulle probeer verhoed dat ons aan die heidene die boodskap bring waardeur hulle gered kan word. Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref.

Paulus se begeerte om weer die gemeente te besoek

17Wat ons betref, broers, toe ons nog maar 'n kort rukkie van julle geskei was – wel uit die oog, maar nie uit die hart nie – het ons so baie na julle verlang dat ons alles in ons vermoë gedoen het om julle weer te sien. 18Daarom wou ons weer na julle toe kom; ek, Paulus, het keer op keer probeer kom, maar die Satan het ons verhinder. 19Wie anders tog as julle is ons hoop en ons blydskap, die kroon op ons werk waarop ons trots sal wees wanneer ons met sy wederkoms voor die Here Jesus sal verskyn? 20Júlle is immers ons trots en ons blydskap!