Afrikaans 1983/1992 (AFR83)
16

161Die woord van die Here teen Baesa het tot Jehu seun van Ganani gekom en gesê: 2“Ek het jou uit die stof uit opgetel en jou as heerser oor my volk Israel aangestel, maar jy het die pad van Jerobeam geloop: jy het my volk Israel laat sondig sodat hulle My met hulle sondes uitgetart het. 3Daarom gaan Ek ontslae raak van jou en jou familie. Ek gaan met jóú hele huis maak soos met die huis van Jerobeam seun van Nebat. 4Die een van jou familie wat in die stad omkom, die honde sal hom opvreet; en dié een wat in die veld omkom, die roofvoëls sal hom vreet.”

5Die ander verhale oor Baesa en wat hy gedoen het, ook sy dapperheid, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

6Baesa is oorlede, en hy is begrawe in Tirsa. Sy seun Ela het hom as koning opgevolg.

7Die profeet Jehu seun van Ganani moes die oordeel van die Here aankondig oor Baesa en sy nageslag, nie net omdat wat hy gedoen het, verkeerd was in die oë van die Here en hy die Here uitgetart het soos die geslag van Jerobeam nie, maar ook omdat hy vir Jerobeam vermoor het.

Ela word koning oor Israel

8In die ses en twintigste regeringsjaar van koning Asa van Juda het Ela seun van Baesa in Tirsa koning geword oor Israel. Hy het twee jaar geregeer.

9Een van sy onderdane, Simri, die aanvoerder van die helfte van die strydwamag het 'n sameswering teen hom gesmee. Toe Ela hom aan huis van Arsa, die opsigter van die paleis in Tirsa, dronk gedrink het, 10het Simri ingekom en hom doodgemaak. Simri het hom vermoor in die sewe en twintigste regeringsjaar van koning Asa van Juda.

Simri self het hom as koning opgevolg.

11Dadelik nadat hy die koningskap oorgeneem het, het Simri die hele koningshuis van Baesa uitgeroei, selfs ook sy bloedverwante en raadgewers. Simri het al wat manlik is in Baesa se familie doodgemaak. 12Simri het die hele familie van Baesa uitgeroei, soos die Here gesê het deur die profeet Jehu. 13Dit was die gevolg van die sonde wat Baesa en sy seun Ela gedoen het en wat hulle Israel laat doen het. Hulle het die Here die God van Israel uitgetart met hulle afgodsbeelde.

14Die ander verhale oor Ela en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

Omri kom in opstand teen Simri

15Tydens die sewe en twintigste regeringsjaar van koning Asa van Juda was Simri sewe dae koning in Tirsa. Die volk was toe net besig om die Filistynse stad Gibbeton te beleër. 16Toe die volk wat besig was met die beleg, die berig kry dat Simri 'n sameswering gesmee en die koning om die lewe gebring het, het die hele Israel nog dieselfde dag daar in die laer vir Omri, die hoof van die leër, tot koning uitgeroep. 17Omri en die hele Israel het toe van Gibbeton af opgetrek en Tirsa gaan beleër. 18Toe Simri bemerk dat die stad ingeneem word, het hy na die verskanste deel van die paleis toe gevlug en die paleis op hom afgebrand. So is hy dood. 19Dit was alles die gevolg van die sondes wat hy gedoen het. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van Jerobeam geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam Israel laat sondig het.

20Die ander verhale oor Simri en oor die sameswering wat hy gesmee het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

21Die volk het egter nou verdeeld geraak. Een helfte wou vir Tibni seun van Ginat koning maak, en die ander helfte vir Omri. 22Omri se aanhang het gaandeweg sterker geword as Tibni s'n, en toe Tibni te sterwe kom, het Omri koning geword.

Die regering van Omri

23In die een en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda het Omri koning geword van Israel. Hy het twaalf jaar geregeer, ses daarvan uit Tirsa.

24Toe het hy Samariaberg van Semer gekoop vir ag en sestig kilogram silwer en bo-op die berg gebou. Hy het die stad wat hy daar gebou het, Samaria genoem na die naam van Semer, die vorige eienaar van die berg.

25Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy was slegter as al sy voorgangers. 26Hy het die pad van Jerobeam seun van Nebat geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam vir Israel laat sondig het, sodat hulle die Here die God van Israel met hulle afgodsbeelde uitgetart het.

27Die ander verhale oor Omri, oor wat hy gedoen het en oor sy dapperheid is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

28Omri is oorlede, en hy is begrawe in Samaria. Sy seun Agab het hom as koning opgevolg.

Agab word koning van Israel

29Agab seun van Omri het koning van Israel geword in die ag en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda. Agab seun van Omri het Israel twee en twintig jaar uit Samaria geregeer.

30Agab seun van Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers. 31Dat hy voortgegaan het met die sondes van Jerobeam seun van Nebat was nog die minste; hy het ook met Isebel dogter van koning Etbaäl van die Sidoniërs getrou en die god Baäl begin dien en hom aanbid. 32Hy het 'n altaar vir Baäl opgerig by die Baälstempel wat hy gebou het in Samaria. 33Agab het ook 'n gewyde paal opgerig en hy het meer gedoen om die Here die God van Israel uit te tart as al die konings van Israel voor hom.

34In daardie tyd het Giël van Bet-El die stad Jerigo opgebou. Toe hy die fondamente daarvan gelê het, het sy oudste seun Abiram gesterf, en toe hy die poortdeure gehang het, het sy jongste, Segub, gesterf. Dit was in ooreenstemming met die vervloeking wat die Here deur Josua seun van Nun uitgespreek het.

17

Elia kondig 'n droogte aan

171Elia die Tisbiet was 'n bywoner uit Gilead. Hy het vir Agab gesê: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê.”

2Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê: 3“Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan. 4Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.”

5Hy het gedoen soos die Here aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan. 6Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink. 7Uiteindelik het die spruit opgedroog omdat die land nie reën gekry het nie.

8Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê: 9“Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het 'n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.”

10Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar 'n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief 'n bekertjie water om te drink.”

11Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief 'n stukkie brood saam.”

12Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net 'n handvol meel in die kruik en 'n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar 'n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.”

13Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my 'n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg. 14So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”

15Sy gaan maak toe soos Elia gevra het. Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. 16Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.

17In dié tyd het die vrou, die eienares van die huis, se seuntjie siek geword. Hy het al hoe sieker geword totdat hy die laaste asem uitgeblaas het. 18Toe sê sy vir Elia: “Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?”

19Hy sê vir haar: “Gee jou kind hier,” en hy tel hom van haar skoot af op. Toe dra hy hom na die bokamer toe waar hy tuis gegaan het en lê hom op die bed neer 20en bid tot die Here: “Here my God, wil U nou oor hierdie weduwee by wie ek bly, 'n ramp bring deur haar kind te laat sterf?”

21Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kind en smeek die Here: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”

22Die Here het Elia se gebed verhoor: die lewe het teruggekom, die kind het gelewe. 23Toe bring Elia die kind van die bokamer af ondertoe en gee hom vir sy ma en sê: “Kyk! Jou seuntjie leef!”

24Die vrou sê toe vir Elia: “Nou weet ek dat u 'n man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is.”

18

Elia en die profete van Baäl

181Na 'n lang tyd, dit was omtrent drie jaar, het die woord van die Here tot Elia gekom en gesê: “Gaan na Agab toe. Moenie langer vir hom wegkruip nie. Ek wil dit weer in die land laat reën.”

2Elia het na Agab toe gegaan. Die swaar hongersnood het nog voortgeduur in Samaria.

3Agab het vir Obadja, die paleisopsigter, na hom toe laat kom. Obadja het die Here pligsgetrou gedien. 4Toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het, het Obadja honderd geneem en hulle vyftig-vyftig in grotte weggesteek en hulle van kos en water voorsien.

5Agab het vir Obadja gesê: “Kom ons trek deur die land, na elke fontein en spruit toe. Dalk kry ons gras om die perde en muile aan die lewe te hou. Dan hoef ons nie van hulle dood te maak nie.”

6Hulle het die land tussen hulle verdeel. Agab het alleen in een rigting gegaan, en Obadja alleen in 'n ander rigting.

7Terwyl Obadja onderweg was, kom Elia hom meteens tegemoet. Obadja het hom herken en voor hom op sy knieë geval en gesê: “Maar u is mos Elia!”

8Elia sê toe vir hom: “Ja, dit is ek! Gaan sê vir die koning: Elia is hier.”

9Maar Obadja sê: “Watter sonde het ek gedoen dat u my aan Agab uitlewer om my dood te maak? 10So seker as die Here u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar die koning u nie probeer opspoor het nie. As hulle sê: ‘Elia is nie hier nie,’ het die koning die koninkryk of die nasie met 'n eed laat bevestig dat hulle u nie kon kry nie. 11Nou sê u sommer: ‘Gaan sê vir die koning Elia is hier!’ 12As ek nou van u af sou weggaan, en die Gees van die Here neem u weg, sonder dat ek weet waarheen, en ek gaan vertel vir Agab ek het u gesien, maar hy kan u nie kry nie, dan maak hy my beslis dood. En dit terwyl ek die Here van my jeug af dien. 13Het hulle u nie vertel wat ek gedoen het toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het nie, dat ek honderd profete van die Here vyftig-vyftig in grotte weggesteek het en hulle van kos en water voorsien het? 14Nou stuur u my sommer om vir koning Agab te gaan sê Elia is hier. Hy sal my mos doodmaak.”

15Maar Elia sê vir Obadja: “So seker as die Here leef, die Almagtige in wie se diens ek staan, ek sal sorg dat Agab my vandag nog te sien kry.”

16Toe gaan Obadja na Agab toe en vertel hom, en Agab het na Elia toe gekom. 17Net toe Agab hom sien, sê Agab vir hom: “Is dit jy, jy wat die dood oor Israel bring?”

18Hy antwoord: “Dis nie ek wat die dood oor Israel bring nie, maar jy en jou familie. Julle het die gebooie van die Here verontagsaam en die Baäls gedien. 19Roep vir my die hele Israel bymekaar op Karmelberg. Die vier honderd en vyftig profete van Baäl en die vier honderd van Asjera wat van Isebel se tafel af eet, moet ook daar wees.”

20Toe stuur Agab die boodskap aan al die Israeliete; hy het ook die profete op Karmelberg laat bymekaarkom.

21Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.”

Die volk het hom nie 'n woord geantwoord nie.

22Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as profeet van die Here, maar daar is vier honderd en vyftig profete van Baäl. 23Bring nou vir ons twee bulle. Hulle kan vir hulle een bul kies en hom opsny en op die hout uitlê. Maar hulle moet dit nie aan die brand steek nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal hom op die hout uitlê, maar dit ook nie aan die brand steek nie. 24Dan moet julle tot julle god bid, en ek sal tot die Here bid. Hy wat met vuur antwoord, is God.”

Die hele volk het geantwoord: “Dis goed so.”

25Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies 'n bul en maak julle hom eerste gereed, want julle is die meeste. Bid dan tot julle god. Maar julle mag nie die vuur aansteek nie.”

26Hulle neem toe die bul wat hy hulle laat kies het en maak hom gereed. Hulle bid toe tot Baäl en roep van die môre af tot die middag toe: “Baäl, antwoord ons!”

Daar was nie 'n geluid van hom af nie. Niemand het geantwoord nie, hoe hulle ook al vir Baäl gedans het by die altaar wat hulle gemaak het.

27Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos 'n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!”

28Toe roep hulle nog harder; en soos altyd kerf hulle hulle stukkend met swaarde en spiese dat die bloed oor hulle loop. 29Tot die namiddag het hulle aangehou te kere gaan, en teen laatmiddag, die tyd vir die aandoffer, was daar nog geen geluid nie. Niemand het geantwoord nie, daar was geen reaksie nie.

30Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom staan hier by my,” en hulle het almal by hom gaan staan.

Toe het hy die stukkende altaar van die Here weer reggemaak.

31Hy het twaalf klippe gevat, net soveel as die stamme van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” 32Met die klippe het hy die altaar van die Here reggemaak en 'n behoorlike sloot daar rondom gegrawe.

33Toe sit hy die hout reg, sny die bul stukkend en lê dit uit op die hout.

34Toe beveel hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit op die brandoffer en op die hout.”

Daarna sê hy: “Doen dit weer,” en hulle het dit nog 'n keer gedoen.

Toe sê hy: “Doen dit 'n derde keer,” en hulle het weer so gemaak.

35Toe stroom die water oor die hele altaar, en selfs die sloot rondom het vol geword.

36Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. 37Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”

38Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek.

39Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!”

40Hierop sê Elia vir hulle: “Gryp die profete van Baäl! Nie een van hulle mag wegkom nie.”

Toe die volk hulle gegryp het, het Elia die profete laat afbring na Kisonspruit toe en daar het hy hulle doodgemaak.

41Daarna sê Elia vir Agab: “Gaan eet eers, want ek hoor al die gedruis van die reën.”

42Agab het toe gaan eet, maar Elia het na die top van Karmelberg toe opgeklim en terwyl hy daar na die aarde toe buig met sy kop tussen sy knieë, 43sê hy vir sy slaaf: “Gaan kyk in die rigting van die see!” Hy gaan kyk toe, en kom sê: “Daar is niks.”

Elia het vir hom gesê: “Gaan kyk weer.”

Dit het sewe keer gebeur. 44Na die sewende keer het hy kom sê: “'n Wolkie so groot soos 'n man se hand kom uit die see uit op.”

Elia sê toe: “Gaan sê gou vir Agab: Span in en gaan van die berg af, anders sal die reën jou vaskeer.”

45Toe hulle nog praat, het die lug donker geword van die onweerswolke; die wind het opgekom en groot reëns het uitgesak. Agab het op sy wa geklim en na Jisreël toe gery.

46Die mag van die Here het vir Elia in besit geneem, en hy het sy mantel opgebind en voor Agab se wa uit gehardloop tot waar die pad uitdraai na Jisreël toe.